A place where stories unfold

Twee onskatbare weke in die Paulet Huis

Die beste manier om te sê wat die verblyf in die Paulet Huis vir my beteken het, is om te verduidelik waar ek was teen die tyd toe ek vir dié Jakes Gerwel-skrywersresidensie in die Oos-Kaap aansoek gedoen het.

Die middeljarige vasvalpunt wat ek bereik het, was een waar hope ander skrywers voor my alleen in ’n stil hoekie aan ’n kombinasie van die sorge van die lewe en spesifieke persoonlike ontoereikendhede wou beswyk onder die oortuiging dat die berg na ’n volgende boek onbestygbaar is.

Dis die doldrums waaruit Cyril Connolly se The Enemies of Promise (1938) gebore is. Die oorkoepelende tema van dié klassieke boek – ’n eiesoortige kombinasie van memoires en literêre kritiek – is ironies genoeg ’n poging om te verklaar hoe dit gekom het dat Connolly, wat ’n wyd gerekende literator en invloedryke resensent was, nie daarin geslaag het om self ’n beduidende letterkundige werk te produseer nie.

“Whom the gods wish to destroy they first call promising” is een van die reëls daaruit wat by my begin spook het. “There is no more sombre enemy of good art than the pram in the hall”,  ’n ander beroemde aanhaling uit die boek, het ook gereeld aangemeld.

’n Lewe sonder die kinders wat jou verswelg, het egter onvoorstelbaar, ’n vreesaanjaende gedagte geword. Maar jou kinders het intussen in die greep van die horror-mone beland en jy mis die bloedjies wat nog in die foto’s teen die yskasdeur vir jou glimlag. Hulle brandende tienerprobleme, nodelose woede, klagtes en emosionele skete het begin om na die voorspooksels van volwasse dilemmas lyk – dilemmas waarop jou boekrak, wat veronderstel is om onder jare se opgegaarde wysheid te kreun, geen antwoorde bied nie.

Raymond Carver skryf in “Fires” – ’n essay oor die belangrikste invloede op sy werk – dat geen skrywer, boek of kursus ’n groter impak op sy kortverhale en gedigte gehad het as die twee kinders wat hy saam met sy vrou binne ’n hinkepink-huwelik probeer grootmaak het nie: “They [my children] were the prime movers and shapers of my life and writing.” Om sy pligte as vader na te kom, het dit vir hom onmoontlik gemaak om langer vorms van fiksie aan te pak, maar die onvermoë om skryftyd te finansier het hom stadig maar seker waansinnig van frustrasie gemaak.

Terwyl jy stoei met dit waaroor Carver hier skryf, besef jy ook die opeis van beduidende skryftyd is gewoon nie iets wat jy regtig finansieel of emosioneel aan jou vrou of kinders kan regverdig nie.

Die romansier en joernalis Claire Dederer (en moeder van twee) som dié situasie uitstekend op:

“There are many qualities one must possess to be a working writer or artist. Talent, brains, tenacity. Wealthy parents are good. You should definitely try to have those. But first among equals, when it comes to necessary ingredients, is selfishness. A book is made out of small selfishnesses. The selfishness of shutting the door against your family. The selfishness of ignoring the pram in the hall. The selfishness of forgetting the real world to create a new one. The selfishness of stealing stories from real people. The selfishness of saving the best of yourself for that blank-faced anonymous paramour, the reader. The selfishness that comes from simply saying what you have to say.”

Uit: “What Do We Do with the Art of Monstrous Men?” (Paris Review, 29 Desember 2017: https://www.theparisreview.org/blog/2017/11/20/art-monstrous-men/)

Maar wanneer jy dan tog in gesteelde tye skribbel, besef jy jou eie lewe het die olike kleur van ’n cautionary tale begin aanneem; ’n storie wat jy van jou kinders probeer wegsteek. Jou boekrak begin lyk na niks meer as die bewys dat Maggie Smith reg was in haar virale gedig “Good Bones” nie – ’n gedig wat sy in haar memoires, Make This Place Beautiful, beken, uiteindelik gif vir haar huwelik was:

Good Bones

Life is short, though I keep this from my children.

Life is short, and I’ve shortened mine

in a thousand delicious, ill-advised ways,

a thousand deliciously ill-advised ways

I’ll keep from my children. The world is at least

fifty percent terrible, and that’s a conservative

estimate, though I keep this from my children.

For every bird there is a stone thrown at a bird.

For every loved child, a child broken, bagged,

sunk in a lake. Life is short and the world

is at least half terrible, and for every kind

stranger, there is one who would break you,

though I keep this from my children. I am trying

to sell them the world. Any decent realtor,

walking you through a real shithole, chirps on

about good bones: This place could be beautiful,

right? You could make this place beautiful.

 “Good Bones” Copyright © 2016 by Maggie Smith. 

               Source: Waxwing magazine (Issue IX, Summer 2016)

Dit alles maak jou knorrige geselskap en jy begin wens jy kan die jeugdige weergawe van jouself gaan wakker klap en ’n appeltjie met hom skil. Jy begin jouself sien soos daai “loser with pointless integrity / that just serves the man” waarvan Matthew Zapruder in sy gedig “Generation X” skryf en jy dwaal terug na jou twintigs soos iemand wat ’n misdaad wil oplos of die kalitalisator van ’n ramp probeer identifiseer.

En dan betrap die 25-jaar-herdenkings-reissue van Bob Dylan se Time Out of Mind jou onkant en herinner jou pynlik aan die ou wat jy op 26 in 1997 was en ook aan daai ou joke van: ek wens ek was nog so oorgewig soos die eerste keer wat ek gedink het ek is vet. Want jy sukkel om te glo dat jy op 26 reeds so geweldig met hierdie album oor ’n gebroke hart kon ïdentifiseer; hoe jy jou eie lewensmoegheid en ontnugtering daarin gehoor en hoeveel tyd jy op daardie gemoedstoestand vermors het. Jy besef hoe dik die depressie toe al geloop het en jy wonder hoe duister dit nog vorentoe gaan raak.

Vyf-en-twintig jaar later treur jy egter nie meer soos destyds oor liefde wat nie gehou het nie. Nou hoor jy sidderend die middeljare in Time Out of Mind: die vrees vir irrelevansie en die kulturele vergetelheid wat jy nou weet jy sal beërwe; die wens om nog deel wees of te word van iets met ’n toekoms.

Jy vind koue troos daarin dat selfs Bob Dylan in sy 50’s genoop is om in “Cold Irons Bound” soos ’n ondier in pyn te kreun: “I’m waist deep, waist deep in the mist / It’s almost like, almost like I don’t exist / I’m twenty miles out of town in cold irons bound”.

Jy bereik die punt waar jy aan jouself moet toegee dat Frank Bascombe reg was toe hy in Richard Ford se The Sportswriter (een van jou gunstelingromans)tot die slotsom gekom het dat dit geen tragedie is wanneer ’n skrywer besluit hy het nou genoeg gespartel nie: “It is no loss to mankind when one writer decides to call it a day. When a tree falls in the forest, who cares but the monkeys?”

Maar dan moet jy ook toegee dat jy eintlik ’n verskoning soek om handdoek in te gooi omdat jy begin vrees het dat jy deur ’n nuwe boek waarin jy jou ongemak en radeloosheid met alles bely, dít wat jy wel bereik het, kan besmet en ’n nuwe etiket om die nek gehang kan word. Jy begin jou werk lees deur die oë van mense wat jy weet nie van jou of jou gedigte hou nie en dit verlam jou. Jy smoor in jou eie sop. Jy sukkel om aan jouself te verduidelik hoekom jou perspektief nog enigsins belangrik is. Jy besef jy is ontvang en gebore in ’n gemeenskap wat na ’n klad op die land se geskiedenis lyk; mense wat na 370 jaar se verwarde setlaarskap nog nooit waarlik hier kon aankom nie en nou weer in families wegtrek na plekke waarvan hulle voorheen gevlug het – weeskinders van die Weste steeds verstrengel met idees van witheid wat ruik na slawerny, uitbuiting en ’n kollektiewe psigose. Die groter narratief, waarin jou poging om sin te maak gebed is, lyk dus ook na ’n cautionary tale en jy wonder of die taal waarin jy skryf nog aansluiting by ’n groter nasionale gesprek kan vind.

Maar om finaal tou op te gooi met ’n manuskrip beteken ook om jouself af te skryf en die gewroeg van die afgelope dekade nutteloos te verklaar. En hoe lank kan jy met daardie oortuiging nog opgeskeep sit en jou eie geselskap verduur? Jy is nog nie gereed om nooit weer te probeer om Leonard Cohen se “The Only Poem” te skryf nie:

This is the only poem

I can read

I am the only one

can write it

I didn’t kill myself

when things went wrong

I didn’t turn

to drugs or teaching

I tried to sleep

but when I couldn’t sleep

I learned to write

I learned to write

what might be read

on nights like this

by one like me

Jy besef jy is lank reeds aan die laaste omdraaikans verby. Al wat erger sal wees as om hierdie manuskrip te voltooi, is om dit finaal die rug te keer soos die roman wat jy 12 jaar gelede seker was jy móét en sál skryf. En ná al die heen en weer en selfverwyt en selfbedrog, moet jy tog beken dat jy dit steeds roerend met Wisława Szymborska in haar gedig “Possibilities” eens is:  “I prefer the absurdity of writing poems to the absurdity of not writing poems.”

En op hierdie punt doen ek toe aansoek vir ’n residensie in die Paulet Huis en vandat ek gehoor het ek kan saam met vier ander skrywers Oos-Kaap toe gaan, begin die ratte skielik weer knarsend draai – asof al wat ek blykbaar nodig gehad die bevestiging is dat iemand iewers nog dink dat ek besig is om aan iets te werk wat moontlik êrens heen op pad is.

 By my is gedigte woorde wat stadig en onvoorspelbaar met rukke en stote aanpak om ervarings, herinneringe, idees, middernaggedagtes, onthoude fragmente, obsessies, kwellings, liedjies, ander digters se woorde en passasies uit boeke wat my skud, roer of kwaad maak. Dit begin dikwels by ’n frase of ’n beeld of twee wat ek snags op my foon of iewers in ’n wagkamer of oor koffie neerskryf. Dis meesal dinge waaraan ek lank moet herkou om uit te vind hoekom dit bly krap en wat dit vir my probeer sê.

Marlene van Niekerk het in ’n klas oor kreatiewe skryfkunde wat ek bygewoon het, gesê ’n skrywer moet by homself inbreek om onder die lae van psigiese afweer wat uitdrukking vind versteende taal, dooie idiome, clichés, fatsoenlikheid en goeie maniere, uit te kom by beelde en woorde uit die onbewuste wat hom kan verstom met dinge wat hy nie besef het hy weet, voel of vrees het nie. Om enige iets van potensiële waarde te skryf moet jy jouself kan bangmaak en verras. Daarom weet gedigte en boeke uiteindelik dikwels meer as die mense wat gaan sit het om dit te skryf.

By die Paulet Huis, weg van al my patrone en alledaagse pligte, kon ek weer toegang vind tot daardie spergebiede aan my binnekant en só verskeie langer gedigte wat in die afgelope drie-vier jaar net nie uit die verf wou kom nie, (min of meer) voltooi. Ek kon ook ’n paar nuwe verse skryf. En nou is ’n manuskrip in sig. As ek dink aan waar ek in Desember was, grens dit vir my aan ’n wonderwerk.

Daar is iets aan die Oos-Kaapse groen en die beeste wat laatmiddag lui-lui aan die Paulet Huis verby deur Somerset-Oos se strate kraal toe drentel, wat ’n mens ’n tweede stel longe laat ontdek en dieper laat asemhaal. Dis ook net ongelooflik wat ’n mens kan uitrig wanneer jy nie hoef te help om maaltye vir ’n gesin te beplan nie.

Daar is ’n groot verskeidenheid Afrikaanse literêre pryse en dit is goed so, maar ná twee onskatbare weke in die Oos-Kaap glo ek wat ons skrywers die nodigste het, is residensies in plekke soos die Paulet Huis. Uiteindelik is die moeilikste om te vind en te finansier, ’n tyd en ruimte waar jy sonder onderbreking kan skryf.

Onderskrifte

Foto 1: Danie Marais sit aan tafel, die bymekaarkomplek by Paulet Huis. (Fotograaf: Lisa Anne Julien)

Foto 2: Deelnemers aan die Jakes Gerwel Stigting / Pass Porta Dialoog program vir skywers van die Lae Lande en Suid-Afrika 2023 (L-R): Tom Naegels, Paulet Huis se sjef Gilbert van Zyl, Paul Kammies, Lisa-Anne Julien, Neske Bets en Danie. (Fotograaf: Nash van Zyl)

Foto 3: Skrywers besoek Somerset-oos lokasie (L-R): Neske Bets, Paul Kammies, Tom Naegels, Danie, raadslid vir die New Brighton lokasies Ayanda Mabheya en Lisa-Anne Julien. (Fotograaf: Lisa Anne Julien)


https://www.vryeweekblad.com/boeke/2023-04-21-met-n-hupstoot-van-jakes-gerwel/

+ posts

Danie Marais is ’n digter, vryskutjoernalis, radio-omroeper en die mediabeampte van die US  Toyota Woordfees op Stellenbosch. Vir sy eerste digbundel, In die buitenste ruimte(2006), het hy die Ingrid Jonker-prys, die Eugène Marais-prys en die UJ Debuutprys ontvang. Sy tweede bundel, Al is die maan ’n misverstand, het die South African Literary Award (SALA) vir Afrikaanse poësie in 2010 gewen. ’n Derde digbundel, Solank verlange die sweep swaai, is in 2014 gepubliseer. Pruimtwak & skaduboksers, ’n versameling prosa uit verskillende publikasies, insluitend ’n reeks oor Suid-Afrikaanse randfigure, was op die kortlys van SALA se 2016 Nadine Gordimer Short Story Award. In 2017 het hy die kykNET-Rapport Boekresensent van die Jaar-prys ontvang.

Leave a comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *