A place where stories unfold

Resensie: Praat Jy! Idees vir die skep van ‘n skryfkultuur in die klas deur Thėrėse Hulme

Die skrywer, ‘n narratiewe terapeut, het oor ‘n tydperk van 17 jaar jongmense aan die skryf gekry in van die mees gemarginaliseerde gemeenskappe in die Wes-Kaap. Die afskop was in 2005 by Petunia Primêr in Kraaifontein en hierdie bundel, met die beskrywende subtitel ‘Idees vir die skep van ‘n skryfkultuur in die klas’, bevat die lesse geleer in daardie tydperk.

Die vertrekpunt is bedrieglik eenvoudig: ‘…dat ons soektog bepaal word deur wat ons glo.’ (18) Slegs iemand wat glo dat iets wel bestaan, sal aanhou daarna soek. Sy bepleit derhalwe ‘n wegbeweeg van ‘n soektog na ‘talent’ en stel voor dat dit vervang moet word met ‘n soektog na elke potensiële skrywer se ‘stem’; die unieke ervaringswêreld en persoonlike styl; dit wat ‘n individu uniek maak; werd om gehoor te word. Die oogmerk is dat die jong skrywer uiteindelik saam met Pablo Neruda sal kan sê: ‘En dit was op daardie ouderdom… wat Poësie gearriveer het / op soek na my.’ (36)

Daar is ‘n wonderlike voorbeeld van bovermelde in praktiese aksie op bladsy 65. ‘n Leerder wil ‘n gedig oor sy ma skryf. Deur middel van vraag en antwoord (wat van jou ma wil jy oor skryf; is sy suur of soet; soet soos wat; hoe lyk – kleur en tekstuur – die soetigheid ?) verskyn die volgende aangrypende gedig uit die leerder se pen: ‘My ma se liefde is soos Wilson-toffies, / soet soos guavas, / sag en geel.’ (John Pamplin)

In plaas van formele taalreëls as fokus, gebruik sy register, perspektief en toon om gevoelens te ontbloot wat andersins deur geykte woorde verberg sou wees; woordeboeke word gebruik om woordkeuses uit te brei, eerder as om op spelling te fokus, en leestekens word ingespan om tempo en ritme te bepaal: ‘Laat jou gevoelens die woorde kies eerder as wat die woorde die gevoelens beskryf.’ (159)

Die gevaar dat kreatiwiteit deur vrees en minderwaardigheid onderdruk word, word spesifiek aangespreek: ‘Kreatiwiteit vra waagmoed… Daar kan nie waagmoed wees waar vrees is nie. Waar vrees is , is stilbly gewoonlik die veiliger opsie.’ (85) Sy wys uit dat die kultuur van stilbly en minderwaardigheid ontspoor moet word deur praktyke wat dit bemagtig te identifiseer, en dit te vervang met waagmoed en vrymoedigheid. Daarsonder is skryfwerk te dikwels bloot ‘n na-apery; eerder as vars en skeppend.

Soos wat die geval is met enigiets nuut wat aangeleer word, is ervaring nodig om tot volle wasdom te groei. Praktiese oefeninge word vir daardie doel ingesluit; onder ander vryskryf; woordkettings en die gebruik van ‘n sentrale toneel om stukke met wisselende fokuspunte te skryf: verhalend, beskrywend, argumenterend, beredenerend en bespiegelend.

‘n Aanhaling van die gevleuelde woorde van Ronelda Kamfer verskaf stof tot nadenke: ‘Vir leerders is die moeilikste dinge nie die geweld, die bendes en die hulpeloosheid nie – die moeilikste is die woorde. Die woorde om te sê wat fout is, die woorde om te beskryf wat seer is, die woorde om vrae te vra. Die moeilikste van alles is die gebrek aan woorde.’ (104)

Alhoewel die doel agter die boek ongetwyfeld is om ‘n skryfkultuur op skoolvlak aan te moedig, is die reikwydte en waarde van die publikasie veel wyer. In 2021 was Marita van der Vyver die samesteller van ‘Jy sê Ek sê Ons sê’ (Lapa-Uitgewers); ‘n bundel gebore uit ‘n projek waartydens leerders aangemoedig is om met vrymoedigheid ‘performance poetry’ te skryf. Deur middel van die toepassing van Hulme se baanbrekerswerk behoort veel meer soortgelyke bundels met vars, jong stemme die lig te sien. Dis insgelyks ‘n waardevolle aanvulling tot die 2019-publikasie ‘Om tot verhaal te kom’ (Lizette Rabe, Lapa-Uitgewers) waar skryfterapie aangemoedig word as ‘n deel van die verwerkingsproses vir trauma en verlies. Hulme en Rabe se gesamentlike werke is ‘n aanwins vir die boekrak van enigeen wat graag die waarde van narratiewe terapie in hulle eie lewens wil beproef.

As antwoord op die algemene vraag oor hoekom iemand behoort te skryf, haal ek graag Theltom Masimila, iemand wat as jongman onder Hulme se vleuels was en gevorder het tot ‘n gerekende Suid-Afrikaanse draaiboekskrywer, aan: ‘Poësie is vir my ‘n manier om te ontsnap na ‘n plek wat my nie vrae vra nie en my moeiteloos aanvaar. Mense vra my hoekom ek skryf en ek vra vir hulle hoekom hulle nie skryf nie, want wie wil nie ‘n wêreld van sy eie hê nie ?’ (83)

Inderdaad.

#Uitdieperdsebek LAPA Uitgewers

Leave a comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *