PEN Afrikaans: Bullet pointed notas oo “Notes” – Keith Oliver Lewis

Keith Oliver Lewis, wie die PEN dit neer-skrywerprogram in 2024 bygewoon het, se skryfstuk (of eerder: notas oor notas) op PEN Afrikaans laat ’n mens smul aan taal en die idee van herkoms—én laat ’n mens nugter dink aan die herkoms van taal. Lees ’n uittreksel van Bullet pointed notas oo “Notes” hieronder:

Bullet pointed notas oo “Notes”

bullet point.

10 April 2025; jou phone screen vesuip in ʼn blou see van Facebook notifications: vrinne en vreemdelinge tag jou in status updates. Hulle mention jou in comments confettied met emojis van party poppers, hearts en hanne wat sonne sound applause. Te midde all the diluvial chimes, discover jy dat jou gedig “my taal, no ghap” angekondag is assie eesteplekwenner vannie Kyk hoe ver het ons gekom-gedigteskryfkompetisie, angebied deu PEN Afrikaans in collaboration met Versindaba en LitNet.

Volgens die call out op LitNet hettie skryfkompetisie ten doel om “ʼn eeu van Afrikaans as amptelike taal” te celebrate. Hie’oo het jy niks nuuts te sê nie. Maa vat maa nog once die chance to challenge twie problematic woorde wat innie boenste quote uitstiek soes a sore thumb.

eeu. n.

Afrikaans is ouer as ʼn 100 jaar. Afrikaans se 100-jaar-bestaansvieringe issie net vekeert nie, maa oek violently exclusive. Vi Klyntji skryf jy dat op “8 Mei 1925 was mense wat lyk en klink soes [jy] [..] amputated from the creation en teenwoordagheid in Afrikaans.” Jou Khoi voorouers, die ware language alchemists, se monne was alreeds innie 18de eeu gevul met dié taal, assit nie dalk earlier wassie.

amptelik. adj.

Die formele erkenning van Afrikaans as ʼn taal in 1925 shape jou mont in vraagtiekens:

Uit wie se monne moes Afrikaans ees kom soedat dit dié status kon geniet? In ʼn lant met ʼn lacerated geskiedenis van colonialism; ʼn lant waa Apartheid, ve’al innie vroeë 20ste eeue, in sy prime was, wie se monne kry die sole mag om te besluit wat is ʼn amptelike taal of nie? Toe Afrikaans gecertify was as ʼn Taal, hoe het dittie bestaande power dynamics vêde gestrengthen en wie se monne was in dié process erase? Verampteliking het geboorte gegie an standarisering. Hoe het dit bygedra tot die ministery van witheid as dominance? Wie was en is nog steeds die standard? En wie se tonge moet assimilate?


Lees die volle weergawe op PEN Afrikaans hier.

Leave a comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *