Drie-en-twintig verhale is gekies vir publikasie in die tiende Stellenbosch Woordfeeskortverhaalbundel. Hierdie jaar se uitgawe sluit in kortverhale van voormalige Paulet Huis skrywers Lynthia Julius, wie se suster Sisca Julius ook die bundel gehaal het, en Daneel Jantjies.


Lynthia het die PEN dit neer-skrywersprogram in 2019 bygewoon waar sy Uit die kroes, haar debuutdigbundel, klaargemaak het. Daneel het die Kommadagga-slypskool in 2023 bygewoon en het óók laas jaar se Woordfeeskortverhaalbundel gehaal.
Volgens die fees se organiseerders het vanjaar se kompetisie 329 inskrywings gelok. Die algehele wenner sal by die bundelbekendstelling by vanjaar se Stellenbosch Woordfees aangekondig word. Die wenner kry altesaam R30 000 met die komplimente van EasyEquities, wat sedert 2022 die fees ondersteun as naamborg van die EasyEquities Skrywersfees. Elke skrywer wat in die bundel opgeneem word ontvang R5 000, asook ’n EasyEquities-beleggingsrekening met R500 om te belê.
“Stories is die hartklop van die Woordfees, wat begin het as ’n deurnagviering van Afrikaanse woordkuns in 2000. Die EasyEquities Skrywersfees is steeds die hart van die fees, wat tot een van die grootste kunstefeeste op die vasteland gegroei het. Met dié kompetisie lok ons jaar op jaar meer topskrywers en die gehalte van vanjaar se inskrywings spreek tot die groot spronge wat ons in tien jaar met die kompetisie gemaak het”
Saartjie Botha, direkteur van die Stellenbosch Woordfees
Baie geluk aan Lynthia en Daneel! Ons verheug saam met julle en sien nog uit na baie stories saam.
Lees meer oor die Stellenbosch Woordfeeskortverhaalkompetisie hier.