Skrywers, nuusmakers en nuusaandraers by Jakes Gerwel-gesprekke op Suidoosterfees

Persverklaring: 25 Maart 2024

Die 21ste Suidoosterfeesfees vind vanjaar van 26 April tot 1 Mei in Kaapstad se Artscape-teatersentrum plaas. Skrywers, joernaliste en nuusmakers gaan tydens die Jakes Gerwel-gespreksreeks gesels oor boeke en aktuele sake.

Alle aanbiedings is gratis, maar vooraf besprekings deur Webtickets is noodsaaklik. Die gesprekke word deur die Jakes Gerwel Stigting en die ATKV aangebied, en verskeie uitgewershuise en kultuurorganisasies neem deel.

Onder die nuusmakers is Caster Semenye, wat met Koketso Sachane gaan gesels oor die troebel waters waardeur sy as atleet in die internasionale arena is. Haar sterstatus is oorskadu deur genadelose bespiegelinge oor haar vroulikheid, en dit het gelei tot ’n uitgerekte hofgeding nadat sy in 2020 verbied is om haar rekord by die Olimpiese Spele te verdedig. Semeya verbreek haar stilswye oor haar grootwordjare, haar seksualiteit en die stryd om haarself te wees.

Salim S. Abdool Karim, Suid-Afrika se leidende wetenskaplike raadgewer tydens die COVID-19-pandemie, kom lig die sluier op kontroversiële besluite wat agter die skerms tydens dié onsekere tye geneem is. In Standing up for Science verduidelik hy aan Angelique Coetzee hoe die wetenskap ons kan help om die wêreld se grootste uitdagings aan te pak.

Die tempo waarteen kunsmatige intelligensie deel van die alledaagse lewe word, is vir baie Suid-Afrikaners vreesaanjaend. Dié verskynsel word onder die soeklig geplaas deur twee kenners: Arthur Goldstuck, skrywer van The Hitchhiker’s Guide to Artificial Intelligence, en Kerushan Govender, skrywer van Age of Agency. In Artificial Intelligence – Will it take over? deel hulle gedagtes met Fred Roed en Kieno Kammies oor hoe dié fenomeen tot die mensdom se voordeel ingespan kan word.

Legendariese verskilmakers in die land se geskiedenis, soos Koning Moshoeshoe, Olive Schreiner, Gandhi, Eugène Marais, Sol Plaatje, Miriam Makeba en Thuli Madonsela se bydraes word in oënskou geneem tydens die praatjie Legendes: Mandela, Makeba, Madonsela & kie. Matthew Blackman, Nick Dall en Dennis Cruywagen vertel waarom dié mense Suid-Afrikaners vandag nog inspireer.

Geweld teen vroue, ’n maatskaplike doring in Suid-Afrika se vlees, word onder die soeklig geplaas tydens ’n gesprek wat Jody Hendricks lei met Marlene Mahokoto, Melene Rossouw en Bernard Lategan.

Politieke kwessies bly nie agterweë nie. In Coloured – hoe klassifisering kultuur geword het kyk Tessa Dooms en Lynsey Ebony Chutel na die komplekse geskiedenis van bruin mense in die konteks van kolonialisme, slawerny en apartheid. Die fokus val op die onmisbare rol wat bruin mense in die toekoms van Suid-Afrika speel.

Met die algemene verkiesing om die draai kom partypolitiek onder die vergrootglas. Meningsvormers soos Roelf Meyer, Francis Petersen en Naidene Lottering kyk tegelyk in die truspieël en in die kristalbal tydens die gesprek Demokrasie: in die truspieël & die wapad. En in Hoe reboot ons SA? vra Roy Havemann, Tessa Dooms en Dennis Davis hoe Suid-Afrika haarself kan regruk ná die gemors wat deur staatskaping veroorsaak is.

Van die land se knapste joernaliste kom stel hul boeke bekend by die fees. Adriaan Basson en Qaanitah Hunter, skrywers van Who will Rule South Africa?, en Mills Soko, medeskrywer van The Good, The Bad and The Ugly, word deur Jan-Jan Joubert oor koalisiepolitiek en vreemde bedmaats uitgevra.

Mark Shaw, Rehana Rossouw, Caryn Dolley en Jeremy Vearey gesels in Die Kaap van oorloë oor die geweld wat heers in die onderwêreld van die poskaartmooi Moederstad. Die sprekers vlek misdade, organisasies en sindikate oop wat dood en verwoesting in een van die wêreld se mooiste stede saai.

In 50 Lies that Made South Africa tree Jonathan Ancer en Lester Kiewit in gesprek oor die mites, verdraaide waarhede en blatante leuens wat as evangelie oor die land se geskiedenis aanvaar word. Vir sy boek oor dié onderwerp het Ancer wyd navorsing gedoen oor die fassinerende stories wat ons graag as die waarheid wil glo.

Die posisie van Afrikaans en die politieke kontroversie wat die geskiedenis van die taal kenmerk, kom onder bespreking tydens die Jakes Gerwel-herdenkingsgeleentheid. Gerwel, een van die Suidoosterfees se prominentste stigterslede, se visie van Afrikaans as instrument van versoening en insluiting, is vandag steeds ’n fondament waarop die fees se aktiwiteite gebou is.

In die paneelgesprek Afrikaans amptelik 100 – vier ons of verdeel ons? besin sprekers oor die 100-jarige vieringe van Afrikaans as ’n amptelike taal wat vir 2025 beplan word. RSG se Martelize Brink lei die bespreking met Donovan Lawrence, Earl-Ray Basson, Rene Arendse en Giep van Zyl oor die omstredenheid wat Afrikaans se amptelike status in die geskiedenis kenmerk. Arendse en Van Zyl verduidelik hoe die verklaring van Afrikaans as amptelike taal in 1925 deur regeringslui wat tegelyk besig was om diskriminerende wetgewing deur te voer, as vertrekpunt van die beoogde viering kan dien sonder om aanstoot te gee.

Afrikaanse skrywers wat die letterkunde verruim met stories en verhale in verskeie variëteite van die taal, gaan sorg vir lewendige besprekings wanneer hul jongste publikasies bekend gestel word.

Nathan Trantraal is teenwoordig met sy grafiese roman Die man wattie kinnes vang, wat handel oor ’n reeksmoordenaar, die Railway Ripper, wat bruin seuns vermoor en in sandduine op die Kaapse Vlakte begrawe. Die skrywers Charmaine Africa en Ronelda Kamfer, onderskeidelik Trantraal se moeder en vrou, is ook op die program. Africa se aangrypende memoir, Amma, het onlangs verskyn. Kamfer lei die gesprek met haar skoonma en Gaireyah Fredericks, wie se Afrikaapse kortverhaalbundel, Een voet innie kabr, pols van Kaaps-Maleise invloede.

Die Stigting vir Bemagtiging deur Afrikaans bring vir Belinda Kruiper en Lyntjie Jaars saam op die verhoog. Die stigting het Kalahari-waarheid gepubliseer, wat handel oor die interessante lewe van Kruiper wat die Kgalagadi-Boesmans se vertroue gewen en hulle met grondeise bygestaan het. Die boek bevat ook pragtige Kalahari-stories wat om kampvure vertel word.

Phoebe Gerwel, weduwee van die man na wie die gespreksreeks vernoem is, se memoir word ook bekend gestel. Haidee Muller-Isaacs van RSG is in gesprek met Phoebe en Rachelle Greeff, skrywer van Phoebe: ’n Lewe saam met Jakes Gerwel, oor Phoebe se opwindende lewe, asook haar lewenslange stryd teen bipolêre gemoedsteuring.

Die bekroonde digter en dramaturg Pieter Odendaal word deur Herschelle Benjamin uitgevra oor sy verhoogdrama Droomwerk wat vanjaar by die Suidoosterfees opgevoer word. Die hoofkarakters in die drama is losweg gegrond op Odendaal se oupa, ’n apartheidsenator in die jare sewentig, en sy stammoeder, Diana van Madagaskar, die 17de-eeuse slavin wat haar dogter Susanna moes weggee aan die Europeërs. Onderwerpe soos die soeke na identiteit en die verwerking van historiese trauma kom aan die bod.

Diana Ferrus, Anzil Kulsen en André Hendricks kom gesels oor die manier waarop boeke mense kan help om die wêreld beter te verstaan, en hoe dit veral vir mans leiding kan gee om hul plek in gemeenskappe op ’n verantwoordelike manier in te neem. Wat is jóú storie? word deur die Vriende van Afrikaans na die feesverhoog gebring met Chareldine van der Merwe as gespreksleier.

Jeugboekskrywers Fiona van Kerwel, Crystal-Donna Roberts en Thérèse Hulme deel hul indrukke oor die mark vir jong lesers. Roberts is bekend vir haar Speurder Sammi-reeks en Van Kerwel se versamelbundel met verhale vir jong lesers, Leë blikkies vol liefde, het onlangs verskyn. Thérèse Hulme, skrywer van Praat jy! en fasiliteerder van die Jakes Gerwel Stigting se narratiewe leerprojek vir leerders van die Kaapse Vlakte, lei die gesprek Blom die lesers soos die boeke?

In die sessie In stede van stories vertel die skrywers Wisani Mushwana (Soft Landing), Megan Choritz (Lost Property) en Alistair Mackay (It Doesn’t Have to Be This Way) hoe dinge wat in die hoof- en systrate van stede gebeur, aanleiding gee tot onvergeetlike passasies in boeke. Die skrywers gesels met Lebo Mazibuko, ’n voormalige deelnemer aan die Jakes Gerwel Stigting se mentorskapprogram en die skrywer van Bantu Knots.

Die volledige program van die Jakes Gerwel-gespreksreeks is beskikbaar op www.suidoosterfees.co.za. Feesgangers sal ’n bewys van besprekings op hul selfone ontvang wat by die ingang na gesprekke vertoon word. Boeke van skrywers op die program word by die venue verkoop.

Die gespreksreeks word na die Suidoosterfees gebring deur die Jakes Gerwel Stigting en die ATKV, en dit word ondersteun deur NB-Uitgewers, Jonathan Ball, Penguin Random House SA, Pan Macmillan SA, Naledi, Flyleaf, Protea Boekhuis, Boekdiva, Jacana, Maverick 451, Vriende van Afrikaans en die Stigting vir Bemagtiging deur Afrikaans (SBA).

Die Suidoosterfees word geborg deur die Departement van Sport, Kuns en Kultuur; die Wes-Kaapse Departement van Kultuursake en Sport; Stad Kaapstad; Netwerk24; Die Burger; NATi; kykNET; die ATKV en Artscape.

Leave a comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *