A place where stories unfold

Persverklaring: Longhope TV-skryf-residensie

Dis met groot opgewondenheid dat die Jakes Gerwel Stigting en M-Net Kanale die verkose kandidate bekend maak vir hul gesamentlike projek, die Longhope TV-skryf-residensie en -internskap: Clarissa Theron (Saaiman), Manhlwa Rabenyane, Mpho Nkoana en Siyabonga B. Dlamini.  

Longhope TV-skryf, wat nou in sy tweede jaar is, is reeds so gewild dat die groot getal aansoeke tot gevolg gehad het dat die aankondiging uitgestel moes word. Die verkose kandidate begin binnekort met die eerste been van die program, die skrywersresidensie by die Stigting se Paulet Huis in KwaNojoli (Somerset-Oos) vanaf 4 tot 17 November 2024. By Paulet Huis sal die kandidate intensiewe mentorskap ondergaan onder leiding van die veelsydige Tina Kruger en inspirerende Muneera Sallies om sodoende vorm te gee aan hul onderskeie televisietekste. Die tweede been van die program behels ’n internskap gebaseer op elke kandidaat se eienskappe en aanleg binne M-Net Kanale self.  

Lees hier wat laasjaar se kandidate sê oor hoe die Longhope TV-skryf-program hulle verander en gevorm het: Niël Coetzee; Gita Fourie; Sindisa Mazisa

Hier onder is inligting oor vanjaar se kandidate. 

Clarissa Theron (Saaiman)

Clarissa Saaiman

Clarissa Theron (Saaiman) is ’n 24-jarige ontluikende aktrise en aspirantskrywer. Sy het haar BA-graad in drama- en teaterstudies aan die Universiteit Stellenbosch voltooi en buiten die toneelskryfwerk wat sy vir haar studies gedoen het, het sy van haar studiejare gebruik gemaak om kort optredes vir haar koshuis te skryf. Haar tekste vir Vensters 2020 en Vensters 2021 het beide tweede plek behaal en haar teks vir Mollasesêr 2021 is as beste teks aangewys. Professionele hoogtepunte sedert haar studies sluit in: om saam met Neil Coppen aan die bekroonde verhoogproduksie Op hierie dag te werk as deel van die voortgaande Karoo Kaarte-projek by die KKNK, om in ’n paar advertensies te speel wat tans in verskeie Europese lande gewys word, en om in Srikanth, ’n Bollywoodfilm wat op ’n ware lewensdrama gebaseer is en op Netflix beskikbaar is, te speel. Clarissa se stem word ook dikwels gebruik in die oorgeklankte Turkse reekse wat op eTV en eExtra vertoon word. Clarissa sal eersdaags te sien wees in die Suid-Afrikaanse film Black burns fast wat tans in die postproduksiefase is en in 2025 vrygestel sal word. 

Manhlwa Rabenyane

Manhlwa Rabenyane

Manhlwa Rabenyane is ’n filmmaker, skrywer en regisseur van Limpopo wat tans in Gauteng woonagtig is. Manhlwa het haar BA in kommunikasiestudies aan die Universiteit van Johannesburg verwerf. Sedert sy besef het dat haar kwalifikasie vir haar ’n sydeur kon oopmaak om met filmstudies te begin, het sy vas besluit om so vinnig as moontlik alles van die bedryf te leer. Met ’n goeie aanvoeling daarvoor om stories te vertel wat haar teikengroep sal raak, het Manhlwa onmiddellik ’n impak gemaak op die Suid-Afrikaanse filmbedryf met Tichere ya morutwana (“Die proefonderwyseres”), ’n film wat sy spesifiek geskryf en geskep het vir televisie as ’n medium en wat vroeër vanjaar op die lug was op Mzansi Bioskop as deel van die Young Bloods-filmfees. Manhlwa het haar vaardighede deur verskeie programme ontwikkel, byvoorbeeld deur Story Oasis (met fondse van die National Film and Video Foundation) en ’n internskap by Urban Brew Studios. Sy het ook haar eie produksiemaatskappy, Vintage Pictures, gestig. Sy sien met groot opgewondenheid uit na die Longhope TV-skryf-residensie by Paulet Huis en ’n internskap by M-Net kanale om haar passie voort te sit. 

Mpho Nkoana

Mpho Nkoana

Mpho Nkoana is ’n passievolle skrywer en opkomende kunstenaar in die filmbedryf. Gedurende sy drie-jaar-diploma in rolprentproduksie aan die Tshwane Universiteit vir Tegnologie (TUT) het hy ’n kort riller met die titel Final girl geskryf wat vir hom die onderskeiding van beste teks by die TUT-filmtoekennings behaal het. Hy is tans geregistreer vir sy gevorderde diploma in rolprentproduksie met ’n fokus op die skryf van rolprenttekste, ook by die TUT. Met sy ervaring in produksie en rolprentskryfwerk vir verskillende maatskappye, byvoorbeeld Ponelopele Pictures en Eyes on Lens Films, is Mpho gretig om sy skryfvaardighede uit te brei by die Longhope TV Skryf-residensie wat deur die Jakes Gerwel Stigting en M-Net Kanale aangebied word. Hy sien uit daarna om met medekunstenaars saam te werk en beoog om een van Suid-Afrika se televisiereuse te word wat boeiende stories vir die skerm oplewer. 

Siyabonga B. Dlamini

Siyabonga B. Dlamini

Siyabonga B. Dlamini is ’n ondernemende Suid-Afrikaanse skrywer, regisseur en ontwerper. Hy het reeds op 16 sy eie straatdraghandelsmerk, GxTH Inc, ontwikkel wat gemik is op minderbevoorregte aksiesport-entoesiaste van townships en met die oogmerk om toegang tot gesonde en veilige omgewings vir almal te bevorder. Hy het sy BA in rolprentskryf en -regie by AFDA, Johannesburg in 2021 behaal en het meer as ses kortfilms vir sy studies geskryf, waarvan hy ook die regie behartig het. Siyabonga het pas sy eerste onafhanklik geproduseerde kortfim geskiet waarin hy ondersoek hoe ons omgewing ons keuses kan beïnvloed. Dit speel af in ’n township wat geïnvesteer is deur misdaad en armoede, soos wat deur die titel The infest geïmpliseer word. Die film volg ’n naïewe regsgekwalifiseerde wat probeer om die moord op ’n vrou op te los sonder om ingetrek te word deur die afgryslikhede van die saak. Met hierdie rolprent reeds in die postproduksiefase en met ’n vrystellingsdatum in volgende jaar het Siyabonga reeds begin om sy volgende kortfilmteks te ontwikkel wat hy beskryf as ’n “gruwelfilm van moord en doodslag wat losweg gebaseer is op ons geskiedenis as Suid-Afrikaners”. Siyabonga sien uit na Longhope TV Skryf om gepaste vaardighede vir televisie as ’n medium te ontwikkel en om eerstehandse ondervinding te verkry onder leiding van erkende kenners in die bedryf.

Leave a comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *