BOEKKLUBS
1001 NAGTE IN DIE MAGIESE PERSIË
Boekklub
Die eeueoue verhale in Duisend-en-een-nagte, Wium van Zyl se Afrikaanse vertaling van die beroemde Irans-Nederlandse skrywer Kader Abdolah se 1001 Nacht, handel uitsluitlik oor vroue – jong vroue, oumas, vindingryke diensmeisies en verleidelike slavinne. En die mees uitgeslape een is die verteller Sjeherazade, wat elke nag ’n verhaal moet uitdink sodat die meedoënlose koning liefs haar dye soen en haar lewe vir nog ’n nag spaar. Kader is self hier om saam met Wium meer te vertel omtrent diégrootse letterkundige kultuurskat van die Midde-Ooste met sy flonkerende geheime. Anastasia de Vries gesels met hulle, en Radio 786 se Fatima Allie en Suidooster se Irshaad Ally lees uit die sensuele stories voor.
75 min | 11 Oktober 18:15 | Hofmeyrsaal | R90 R120 by die deur (met ’n gratis glas wyn vooraf beskikbaar)
Taal: Afrikaans
Aangebied deur Hemel en See Boeke
~
FROM THE SMOKY JAZZ HALLS OF YESTERYEAR
Boekklub
As seuntjie het die bekende DRUM-joernalis Sam Mathe Vrydagnagte vasgenael langs die radio gesit, verruk deur die saxofoonklanke van Kippie Moeketsi; as ’n tiener het hy musiekkasette versamel. Dekades later publiseer hy sy liefdestaak, die eerste ensiklopedie ooit van die wie’s wie van SA township-musiek, From Kippie to Kippies and Beyond. Gaan op reis saam met Sam en gesprekleier Chris du Plessis en ontdek die era van Moeketsi se rokerige Sophiatown-jazz en die moderne weergawe van die Markteater se Kippies, die 30’s se marabi en trekarbeiders se maskandi, en hoor meer van sterre soos Spokes Mashiyane, Miriam Makeba, Hugh Masekela, Dollar Brand, Jimmy Dludlu en Thandi Klaasen terwyl jazz-speler Ramon Alexander tussen-in die kenmerkende wysies laat opklink.
75 min | 12 Oktober 18:15 | Hofmeyrsaal | R90 R120 by die deur (met ’n gratis glas wyn vooraf beskikbaar)
Taal: Engels
Aangebied deur Themba Books
~
MARLENE VAN NIEKERK: DIE ONSTUITBARE
Boekklub
Met inspirasie uit Marlene se eie woorde sluit Sonja Loots haar bydrae tot die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns se huldigingsbundel oor dié meermalige Hertzogpryswenner af met die swierige titel, “Kos, drank, konstipasie en ‘kakhuise vol kuns’ – vroegmoderne kennismetafore in die prosa-oeuvre van Marlene van Niekerk”. Daarmee gee sy ook die toon aan vir wat beloof om ’n heerlik onheilige (hoe dan anders?) gesprek oor Marlene van Niekerk. Die tempteerbare oog te weestussen die redakteur Marius Crous, Sonja, Metha-Miré Vijoen en Marius Swart, met laasgenoemde as vraesteller. Luister ook na ’n vooraf-opname van Marlene wat self voorlees en ’n paar van die vrae van die deelnemers antwoord.
75 min | 9 Oktober 18:15 | Hofmeyrsaal | R90 R120 by die deur (met ’n gratis glas wyn
vooraf beskikbaar)
Taal: Afrikaans
Aangebied deur Naledi
~
TO SURVIVE AUSCHWITZ
Boekklub
Martie Meiring ontmoet die merkwaardige Ella Blumenthal, wat op 102, met ’n paar foto’s, vertel hoe sy en haar jonger niggie moes vlug uit die asse van die Warskou-ghetto, die konsentrasiekampe van Majdanek, Bergen-Belsen en Auschwitz oorleef, hongersnood in ’n verflenterde na-oorlogse Pole in die gesig staar en hulle pad na Parys vind voordat hulle Palestina toe is waar Ella die Suid-Afrikaner sou ontmoet met wie uiteindelik ’n lewe maak in Brakpan. Joanne Jowell is ook daar, die skrywer van I Am Ella. Die gesprek sluit in ’n uittreksel uit die aangrypende dokumentêr, I Am Here, waarin Ella ook vertel van haar geestelike reis.
75 min | 10 Oktober 18:15 | EasyEquities-Boektent | R90 R120 by die deur (met ’n gratis glas wyn vooraf beskikbaar)
Taal: Engels
Aangebied deur Kwela
~
WALTER MEYER: VERWEERDE COWBOY
Boekklub
Sy ouer boet het ’n ding gehad oor lig, maar was nooit tevrede met sy pogings nie, sê die vlieënier Frans Meyer in sy biografie, Impossible Skies – Life with my brother, the artist, Walter Meyer, wat hy met Andries Bezuidenhout bespreek. Hy beskryf Walter as ’n “weathered and worn-out cowboy” en sê hy het die biografie kort na sy dood begin skryf as ’n manier om te probeer verwerk wat gebeur het. Walter is in 2017 deur Sophia Meyer, die jong vrou met wie hy die laaste jare van sy lewe in ’n onstuimige en destruktiewe huwelik was, met ’n kombuismes doodgesteek. Maar anders as wat sy tragiese dood suggereer, was Walter bekend om sy passie, sagte hart en liefde vir die musiek van Koos du Plessis en Gert Vlok Nel. Catharina Scheepers, sy gewese vrou, deel ook haar herinneringe. As ’n bonus word enkele van Walter se oorspronklike skilderye – insluitende ‘n roerende selfportret – by die gesprek uitgestal asook ’n eksklusiewe reeks van vier kunsafdrukke van sy skilderye deur Heidi Erdmann.
75 min | 13 Oktober 18:15 | Hofmeyrsaal | R90 R120 by die deur (met ’n gratis glas wyn vooraf beskikbaar)
Taal: Afrikaans
Aangebied deur Melinda Ferguson Books
~
ANDRÉ DE RUYTER: TRUTH TO POWER
Boekklub
André de Ruyter se Truth to Power bewys Eskom is ’n speelbal in die hande van ’n magtige staatsbestel wat korrup en buite beheer is. Die vraag is of Eskom reggemaak kan word sonder ’n omvattende regeringsverandering en herstrukturering. Om die tafel vir ’n gesprek onder leiding van die politieke ontleder Piet Croucamp is De Ruyter uit die buiteland, Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, en Ghaleb Cachalia, die DA se woordvoerder oor openbare ondernemings. Prof. Malegapuru Makgoba, voormalige tussentydse voorsitter van Eskom en skrywer van die nuwe Leadership for Transformation, sluit by hulle aan.
75 min | 14 Oktober 18:15 | EasyEquities-Boektent | R90 R120 by die deur (met ’n gratis glas wyn vooraf beskikbaar)
Taal: Engels en Afrikaans
Aangebied deur Penguin Random House en Skotaville
~
DIGKUNS
ALDA MERINI IN AFRIKAANS
Vertaling
Die stem van die gemarginaliseerdes. Die dame van die Navigli. Die mal digter… Alda Merini het nie van dié etikette gehou nie. As een van Italië se mees gevierde literêre figure wou sy bekend wees as “die digter van vreugde”. Charl-Pierre Naudé vra die 90-jarige Rina Cascione uit oor Die kliniek van verlatenheid, haar pragvertaling vanMerini se gedigte uit ‘n gestig. Merini was in haar later jare bekend daarvoor dat sy dikwels ’n geldjie uit haar bra sou vis vir ‘n behoeftige, en al is sy verwaarloos op TV gewys, het sy ’n onmiskenbaar koninklike aura gehad.
60 min | 13 Oktober 12:00 | Victoria Hub: Raadsaal | R75 | R100 by die deur
Taal: Afrikaans en Italiaans
Aangebied deur Naledi
~
BIBI & PIETER EN RONDE 2
Gedigte
Annie Klopper vind meer uit omtrent Bibi Slippers (Soekenjin) en Pieter Odendaal (Ontaard) se langverwagte tweede bundels. Soekenjin gaan oor die “alles” wat die internet verteenwoordig: verbindings, en gebroke verbindings; oor die soeke na liefde, die self, betekenis, na die regte woord, na banale inligting op die internet, en oor al die aansprake op ons aandag wat ’n mens op vreemde afdraaipaadjies lei. Ontaard kyk op sy beurt na queer-identiteitspolitiek, geboortegrond, die klimaatskrisis, verlies en vervreemding en vra ongemaklike vrae oor herkoms, tuiswees en heengaan.
60 min | 9 Oktober 12:00 | Victoria Hub: Raadsaal | R75 | R100 by die deur
Taal: Afrikaans
Aangebied deur Tafelberg
~
KI AS SKRYWER
Gedigte
Met Silwerwit in die soontoe: Afrikaans se eerste KI-gedigte het Istanboel-akademikus Imke van Heerden Afrikaans deel gemaak van ’n internasionale debat oor skeppende kunsmatige intelligensie. Bibi Slippers (Soekenjin) praat met haar, Menno van Zaanen, ’n professor in digitale geesteswetenskappe aan die NWU, en die programmeerder en debuutdigter Tom Dreyer (Nou in infrarooi) oor moontlikhede, uitdagings en gevare “waarvan die omvang nog onbekend is” – volgens Google se Geoffrey Hinton.
60 min | 10 Oktober 12:00 | Victoria Hub: Gesprekslokaal | R75 | R100 by die deur
Taal: Afrikaans
Aangebied deur Kwela en Naledi
~
TONGVISSE, TALE EN GEDIGTE WAT LEWE
Animasie
Met sy poësie-animasie bevind Diek Grobler hom in ’n klein, uitgelese gehoor waar daar eintlik feeste gehou word, spesifiek gemik op poësieprente! Sy en die harpspeler Anne van Schothorst se animasie-weergawe van ’n Antjie Krog-gedig, “Transparant van ’n tongvis”, was verlede jaar in die eindronde van ’n internasionale kompetisie in Italië, terwyl “Laaste woord” vir vanjaar se Sjanghai-filmfees gekies is. Kom luister na wat hy oor sy werk aan Anton Kannemeyer vertel. ’n Aparte vertoning van al sy poësiefilms, gegrond op gedigte deur onder andere Breyten Breytenbach, Ronelda Kamfer, Danie Marais en Martjie Bosman, wys ook deur die week.
Gesprek: 60 min | 10 Oktober 12:00 | Victoria Hub: Raadsaal | R75 R100 by die deur
Taal: Afrikaans
Vertoning: Van 9 tot 13 Oktober 13:00-14:00 | Gratis
~
TWEE KAALKOPPE WONDER
Gedigte en godsdiens
Nadat hy die film Johnny is nie dood nie gesien het, het Koos Kombuis besef sy generasie was in opstand teen die kerk en al die ou waardes wat vir hulle hol was. Maar met al die ou gode dood, wat het die nuwe generasie in die plek daarvan? Waarop grond ons ons moraliteit? Is alles dan sinloos? Hy beskryf sy reis van twyfel na vrede in Deur die tonnel van twyfel as “seker ’n moderne, godsdienslose geloofsbelydenis”. Die digter Clinton du Plessis, wat na jare weer ’n bundel, Joernaal by ’n hoofstroom-uitgewer publiseer, skryf op Facebook hoe hy luister na die drie covers van Johannes Kerkorrel se “Hillbrow” en wonder wanneer die magiese “gee, gee’, gee” verruil is vir ’n era van gryp en vreet. Jean Oosthuizen lei die gesprek.
60 min | 10 Oktober 10:30 | Victoria Hub: Gesprekslokaal | R75 | R100 by die deur
Taal: Afrikaans
Aangebied deur Naledi
~
FIKSIE
ANCHIEN TROSKIE & HELENE DE KOCK
Fiksie
Twee van ons topverkopers vertel Susan Booyens van hulle jongste boeke en hoe skryf soms terapie word teen die seer. Anchien het as Elbie Lötter die opspraakwekkende Dis ek, Anna geskryf. In Die laaste kanariegeel notaboek word die bloedjongMia Steyn een laatmiddag by ’n losieshuis in Bloemfontein, afgelaai, maar dis toe sy ’n stowwerige boekwinkel instap dat sy besef dis waar haar plek is. Helene kan netsowel die titel Dame De Kock dra. In Diana se dag speel haar storie op die spogwynlandgoed Soeterwijn af, waar ’n jong vrouewynmaker die las van ’n skande erf waaraan sy geen skuld het nie.
60 min | 9 Oktober 10:30| Victoria Hub: Gesprekslokaal | R75 | R100 by die deur
Taal: Afrikaans
Aangebied deur Human & Rousseau
~
ANNELIE BOTES: KATVIS
Riller
Ná ’n tyd van ingrypende liggaamlike trauma kon Annelie steeds haar eerste roman ná 12 jaar persklaar maak. Maar pleks van Annelie, is die ou Gryse (Annelie se man, Chris Botes) op die verhoog om meer te vertel van die skepping van Katvis, waarmee hy woord vir woord saamgeleef het, en natuurlik sy vrou-as-skrywer. Katvis is die verhaal van Maria, wat ná ’n huwelik van meer as ’n dekade met ’n magsbehepte en sadistiese man besluit, genoeg. Sy verlaat die Baai met net haar handsak, koffer en viool in die kar. Wanneer sy egter opdaag by die veilige hawe van die enigste mens wat van haar planne weet, besef sy haar huwelik was net ’n leerskool vir die hel wat voorlê …
60 min | 10 Oktober 11:00 | EasyEquities-Boektent | R75 | R100 by die deur
Taal: Afrikaans
Aangebied deur Penguin Random House
~
E (SUSSIE) KOTZE VIER 90
Fiksie
Kom klink ’n glasie saam met die gesprekvoerder Isabella Niehaus op Sussie, haar nuwe roman, Hulle noem haar Carminda, én haar 90e verjaarsdag op 17 Oktober. Die storie begin waar skipper Mias Mulder uit Walvisbaai terugkeer na Ei-Land aan die Weskus nadat hy hoor ’n ander man kuier by sy verloofde. Hy leen ’n motorfiets en pak die lang tog aan. Op pad kom hy ’n vrou, Carminda, teë wat gestrand is en ’n geleentheid soek. Sy klou styf agterop aan hom vas. Eers geleidelik word haar hartseer herkoms bekend. ’n Verhaal van liefde wat – byna – alles bedek deur dié geliefde Weskus-skrywer. Dean Balie lees voor.
60 min | 12 Oktober 13:00 | EasyEquities-Boektent | R75 | R100 by die deur. (met ‘n gratis glas vonkelwyn)
Taal: Afrikaans
Aangebied deur Kwela
~
EBEN VENTER: DECIMA
Fiksie
Gielie Hoffmann gesels met Eben oor sy jongste roman, Decima. Die agtergrond is die Oos-Kaapse veld, waar Decima, ’n formidabele, bykans pre-historiese swartrenosterkoei met haar dragtige kalf bly. Daar is ook die karakter Eben, al skrywende oor Decima se lot, die stropers, hulle kliënte, die inyangas, die bewaarders. En natuurlik Eben se brose, bejaarde ma wat in die land moes agterbly toe haar seun land-uit is.
60 min | 9 Oktober 14:30| EasyEquities-Boektent| R75 | R100 by die deur
Taal: Afrikaans
Aangebied deur Umuzi
~
ETIENNE VAN HEERDEN: GEBEENTE
Fiksie
Jy onthou dalk Toorberg, met verhaalhede ongeveer 1986. Dis nou vier dekades later. Hier, met die onverwagte trein, kom Magistraat Imker Goedeman (wat destyds as jong man die afarm-magistraat van Toorberg, Abraham van der Ligt, in die gange van die Bellville landdroshof raakgeloop het) in 2023/34 na Gebeente, ’n dorpie op die Vergete Grootpad noord van Sutherland, om ’n komplekse saak te ondersoek: die Diefstal van die Melkweg. Nes met Abraham van der Ligt se saak is ons met Gebeente in die buurt van onwaarskynlikhede, en die ganske regstelsel word uitgedaag. Etienne is in gesprek met Frederik de Jager.
60 min | 11 Oktober 13:00| EasyEquities-Boektent| R75 | R100 by die deur
Taal: Afrikaans
Aangebied deur Tafelberg
~
FIKSIEPARADYS: ‘YOU HAD ME AT HELLO’
Boekvoorlesings
Wanneer jy ’n boek oopklap en dáárdie openingsreël lees – ons almal ken die gevoel. Vyf skrywers met nuwe boeke is gevra om terug te dink aan so ’n “You had me at hello”-oomblik. Dit werk so: Jy beantwoord eers eers ’n paar vinnige-vuur vrae oor jou boek en lees dan voor, maar voordat jy dit doen, moet jy die sin lees wat jy nooit sal vergeet nie, sê waar jy was toe jy dit gelees het, en dan verklap wat die lees daarvan aan jou gedoen het. Kom luister hoe ondervra Jo Prins vir Erla Diedericks (Salemstraat), PP Fourie (Ons skulde), Morné Malan (Minder as water), Elmarie Derckson (Die gawe van groen) en Pieter Marais (Konkel) onder vier oë én oor ’n glas wyn.
75 min | 12 Oktober 16:00| EasyEquities-Boektent| R75 | R100 by die deur (Gratis glas wyn ingesluit)
Taal: Afrikaans
Aangebied deur Human & Rousseau, LAPA, Protea Boekhuis, Queillerie, Wenkbrou
~
LEON VAN NIEROP: DUIWELSROOS
Misdaadfiksie
Ivor Price gesels met die radioveteraan oor sy heerlike nuwe misdaadstorie, Duiwelsroos. ’n Orkaan waai die privaatspeurder adjudant Beer Henning letterlik tot op die spogroosplaas Roosbaron in die Laeveld, waar ’n pikswart roos groei met ’n dodelike geheim. Als is inderdaad nie pluis in die rooskasteel van die eksentrieke Mathilda van Eck nie. Sy glo nie haar outistiese 17-jarige seun het selfdood gepleeg nie en huur Beer om uit te vind wat werklik gebeur het. Maar hoe meer Beer met vroue en rooskwekers deurmekaar raak, hoe minder weet hy. En boonop besef hy die geniale jongman het leidrade tot sy dood agtergelaat.
60 min | 12 Oktober 15:00| Victoria Hub: Gesprekslokaal | R75 | R100 by die deur
Taal: Afrikaans
Aangebied deur Queillerie
~
MARITA VAN DER VYVER: LAASTE KANS
Fiksie
In 1999 verskyn Marita se Wegkomkans, haar derde volwasse roman en een waarin sy skryf oor tien vriende wat oor ’n tydperk van tien jaar bymekaar kom. Vier-en-twintig jaar hierna verskyn Laaste kans. ’n Groepie vriende sien mekaar vir die eerste keer in vyf-en-twintig jaar by die een se sewentigste verjaarsdagviering in sy en sy vrou se strandhuis aan die Weskus. Antoinette Louw gesels met Marita oor vriendskap wat die tyd deurstaan, die komplekse verhouding tussen ouers en kinders en die eise wat die tyd stel. Susanne Beyers lees voor.
60 min | 11 Oktober 16:00| EasyEquities-Boektent| R75 | R100 by die deur
Taal: Afrikaans
Aangebied deur Tafelberg\
~
MET KAREL SCHOEMAN AS MUSE
Fiksie
Johann Rossouw se nuwe roman, Sluitstuk, speel met die verhouding tussen geheue en geskiedenis – iets waaroor Robert Vosloo hom uitvra. Die verhaal open drie jaar ná die dood van een van Afrikaans se grootste skrywers wanneer ’n Nederlandse vrou Suid-Afrika toe kom om navorsing vir ’n biografie oor hom te kom doen. Sy besoek die skrywer se voormalige vakleerling om meer oor die enigmatiese figuur vas te stel – bykans dertig jaar nadat die twee mans se weë pynlik geskei het. Onder die priemende blik van die biograaf borrel vrae op, soos wie was die groot skrywer werklik? Hoekom het hy die vakleerling na sy eensame sterfbed laat kom? En wat is die ware rede agter die Nederlander se biografie?
60 min | 13 Oktober 15:00| Victoria Hub: Gesprekslokaal | R75 | R100 by die deur
Taal: Afrikaans
Aangebied deur Umuzi
~
RUDIE EN DIE HANS’E
Fiksie
Gedoriewaar, Hans wil trou! Oud is inderdaad nie koud nie. Om die vyfde aflewering oor die 90-plus Hans van Kraaienburg – held en voorbok van die bejaarde Huis Madeliefie-“bende”– te vier word Hans kry troukoors met flair bekendgestel wanneer die radio-Hans, Tobie Cronjé, die fliek-Hans, Pierre van Pletzen, en die verhoog-Hans, Charlie Bouguenon, saam met Rudie van Rensburg aansit vir ’n prettige gesprek met Leon van Nierop oor dié buitebeentjie-blitsverkoper.
60 min | 13 Oktober 16:00| EasyEquities-Boektent| R75 | R100 by die deur
Taal: Afrikaans
Aangebied deur Queillerie
~
SJ NAUDÉ: VAN VADERS EN VLUGTELINGE
Fiksie
‘n Teer, nuwe roman uit die pen van die veelbekroonde SJ Naudé, en Louise Viljoen vra hom daaroor uit. Die roman wentel om Daniël, ’n joernalis, wat ’n trekvoëlbestaan voer tussen Londen en Kaapstad. Wanneer sy bejaarde pa sterf, bevat die testament ’n ongewone klousule: Daniël sal net sy deel van die boedel erf indien hy besoek aflê by sy neef Theon op die ou familieplaas in die Vrystaat. Dié besoek lei tot ’n ander reis – hy en sy neef neem ’n siek seuntjie na Tokio, hopende ’n nuwe soort behandeling sal die kind se lewe red.
60 min | 12 Oktober 10:30| Victoria Hub: Gesprekslokaal | R75 | R100 by die deur
Taal: Afrikaans
Aangebied deur Human & Rousseau
~
VAN OEKRAÏNE, MET LIEFDE
Misdaadfiksie
Ian Sutherland het vir die eerste keer met die Tjernobil-kernramp in Oekraïne kennis gemaak toe hy ingenieurswese studeer het en later, toe hy ’n navorsingstuk oor die 30-jarige herdenking daarvan moes skryf. Nou, ná jare in die finansiële wêreld in New York, Sydney en Kaapstad, ’n MA in kreatiewe skryfwerk en gangbare Russies onder die knie, keer hy in sy tweede boek terug hiernatoe. Catastrophe gaan oor ’n Russiese ballerina in New York wat, sterwend aan kanker, haar vervreemde dogter soek om te bieg oor haar geheime vlugtog in 1986 uit Tjernobil. Die fotograaf Jaco Wolmarans se navorsing vir Dolos het hom weer na die noordooste van Mosambiek gelei om meer uit te vind oor die gevreesdeAl-Shabaab-ekstremiste en om langafstand-skiet te bemeester. Dibi Breytenbach vra hulle uit.
60 min | 11 Oktober 10:30| Victoria Hub: Gesprekslokaal | R75 | R100 by die deur
Taal: Afrikaans
Aangebied deur Tafelberg en Vindigo Press
~
KOOKBOEKE
KAAPS-MALEIS SOOS DIE AUNTIES DIT MAAK
Kookboeke
Die bekende Cariema Isaacs (Modern Cape Malay Cooking), wat vandag in Doebai woon, het so leer kook. So ook die Bo-Kaap se “Taste Malay”-kok, Fayruza Abrahams. Saam praat dié twee kopstukke oor Kaaps Maleise kosse, Groot Dae, tradisies en speserye saam met Aunty Mardia Hendricks, spysenier en die bakkoningin van Lotus River, en Shihaam Domingo wat die vrawerk doen en self ’n gedugte kok is. Boonop kan gaste proe waaroor dié kokke praat!
60 min | 9 Oktober 11:00 |Die Khaya| R100 R130 by die deur
Taal: Afrikaans, Engels en Kaaps
Aangebied deur Penguin Random House
~
PROE TIAAN SE ONTHOUKOS
Kookboek
Kom kuier saam met Tiaan Langenegger en Bertus Basson, wanneer die twee oud- Ouverture-”kollegas” saam kosmaak uit Tiaan se eerste kookboek, Onthoukos, en tussen-in gesels oor die hede en verlede van hulle wêrelde. Die intieme “small plates”-ete wat oor en weer gedeel kan word, sal iets verklap van die “terug na die basis”-aanslag van die boek, sy huisgeure en teksture. Dink melkkos met kaneel, tamatiebredie, Ma se frikkadelle, pampoenkoekies en kom lig ’n glas op vriende en familie.
120 min | 11 Oktober 12:00 | Eike-restaurant | R600
Taal: Afrikaans
Aangebied deur LAPA
~
NIEFIKSIE
491 DAE AGTER TRALIES
Eieverhaal
In 2013 klim die sakeman Daniel Janse van Rensburg op ’n vliegtuig om ’n lugrederykontrak in Wes-Afrika te gaan finaliseer. Min weet hy hy sou homself dae later agter tralies bevind in Ekwatoriaal-Guinee se Black Beach, een van die wêreld se mees berugte tronke, met geen vooruitsig op uitkoms nie en geen idee wat sy “oortreding” is nie. Dibi Breytenbach vra hom uit oor Black Beach: 491 Days In One Of Africa’s Most Brutal Prisons, wat dit draaglik gemaak het en hoe dit hom verander het.
60 min | 10 Oktober 09:30 | EasyEquities-Boektent| R75 | R100 by die deur
Taal: Afrikaans
Aangebied deur Penguin Random House
~
BARBARA MASEKELA: POLI POLI
Memoires
Die 82-jarige oud-diplomaat Barbara Masekela gesels met Glynis Breytenbach oor haar openhartige memoires, Poli Poli. Die titel verwys na die liewenheersbesies wat hulle as kinders gevang en Poli Poli genoem het – boodskappertjies wat die kinders wat by oumas grootword na hulle ouers “gestuur” het. Sy vertel ook van haar Afrikaanse ouma Johanna Mabena Bower, grootword in ’n steenkoolmynlokasie soos KwaGuqa in die 40’s en Alexandra-township in die 50’s, haar musikale broer Hugh, en ‘n politieke loopbaan wat van Mandela se personeelhoof tot ambassadeur gestrek het.
60 min | 11 Oktober 11:00 | EasyEquities-Boektent| R75 | R100 by die deur
Taal: Engels en Afrikaans
Aangebied deur Jonathan Ball Publishers
~
BERYL BOTMAN: SEDERT DIE DOOD ONS SKEI
Eieverhaal
Skaars ’n paar maande na haar man, oud- US-rektor Russel Botman, se afsterwe, het Beryl Botman haar doktorsgraad behaal en by die Vrystaatse universiteit aangesluit as ’n post-doktorale genoot. Maar in haar binneste moes sy vrede maak met haar man se dood, en uit dié verlies is haar eerste boek, Sedert die dood ons skei, gebore. Sedertdien het sy ’n tweede, Steeds bly die liefde, voltooi. Sy gesels openhartig met Marlene le Roux oor die pad wat sy moes loop as weduwee, oor aanvaarding, maar ook vergifnis.
60 min | 9 Oktober 12:00 | Victoria Hub: Gesprekslokaal | R75 | R100 by die deur
Taal: Afrikaans
Self uitgegee
~
‘COLOURED’: DIS ONS KULTUUR
Niefiksie
Bruin gemeenskappe word dikwels geminag as “nie swart genoeg of nie wit genoeg” en dat hulle geen duidelik erfenis of kultuur sou hê nie. MaardieKokkedoor: vuur en vlam-kok Nate Smith en Kuier se stigterredakteur Kay Karriem verskil hiervan, net soos die twee jongskrywers Tessa Dooms en Lynsey Chutel. Hulle boek, Coloured: How Classification became Culture, wys juis hoe ver bruin mense se geskiedenis terugloop en watter eiesoortige kultuur uit ’n traumatiese ontstaansgeskiedenis ontwikkel het wat vandag in van die kos tot die musiek tot die taal gevier word. Diana Ferrus vra die vier uit, en Nate gee ’n smakie van waaroor gepraat word.
60 min | 13 Oktober 10:30 | Victoria Hub: Gesprekslokaal | R75 | R100 by die deur
Taal: Afrikaans
Aangebied deur Jonathan Ball
~
DAISY DE MELKER: GIFMOORDENARES
Niefiksie
Nie net het mense ure tou gestaan om die opspraakwekkende hofsaak by te woon nie, skryf Ted Botha in sy sappige Daisy de Melker – Hiding among Killers in the City of Gold oor die gifmoordenares wat in die 1930’s koerantvoorblaaie wêreldwyd gehaal het. In die week voor die uitspraak is ook fluks sake gedoen op die hoftrappe soos mense hulle plekke binne verkoop het. En toe afrekeningsdag aanbreek, was sowel die aanklaer as Daisy se advokaat afwesig – die een siek, die verdediging te uitgeput. Dit was die junior advokaat, die later beroemde Isie Maisels, wat moes aanhoor hoe hulle kliënt tot ’n galgdood gevonnis word weens moord op haar seun. Izak du Plessis wil alles hoor.
60 min | 12 Oktober 09:30 | EasyEquities-Boektent| R75 | R100 by die deur
Taal: Afrikaans
Aangebied deur Jonathan Ball
~
EVE FAIRBANKS: THE INHERITORS
Niefiksie
Die Amerikaanse joernalis Eve Fairbanks woon sedert 2009 in die land. Met The Inheritors waaraan sy 12 jaar gewerk het, vleg sy die verhale van drie gewone landsburgers oor vyf onstuimige dekades saam om te sien wat werklik gebeur wanneer ’n land besluit om wit oppergesag te beëindig. Sy vind onverwagse teenstrydighede en medemenslikheid. Sy ontbloot die persoonlike aard van woede en wonder hoe kan ’n mens ’n eerbare lewe lei in ‘n samelewing wat jou nie meer erken nie. Marianne Thamm gesels met haar oor dié baanbrekerswerk, bekroon met die PEN/John Kenneth Galbraith-prys vir niefiksie.
60 min | 10 Oktober 13:00 | EasyEquities-Boektent| R75 | R100 by die deur
Taal: Engels
Aangebied deur Jonathan Ball
~
HOEKOM STOTTER ONS MANS SO
Niefiksie
Watter soort manlikheid behoort ons na te streef en hoekom bestaan daar ’n term soos toksiese manlikheid? Chris Jones gesels met drie skrywers: Vir Diensplig het Anelia Heese met meer as 50 voormalige dienspligtiges gepraat om te probeer uitvind wat die ondervinding aan hulle gedoen het, en hoe ’n nuwe bedeling die impak daarvan geraak het. Dis hier waar die meeste die ander betekenis geleer het van “kontak”,of moes hoor hulle moet “reg wees vir doodmaak”. Francis Petersen, rektor van die Vrystaatse Universiteit, en Nuraan Davids, onderwyskundige, praat weer oor hulle bydraes tot die belangrike Dit is tyd dat mans begin praat.
60 min | 10 Oktober 15:00 | Victoria Hub: Gesprekslokaal | R75 | R100 by die deur
Taal: Afrikaans
Aangebied deur Naledi en Tafelberg
~
HOERKIND EN DIE SKRYWER
Eieverhaal
Sedert sy bekendstelling verlede jaar het Herman Lategan se ontroerende Hoerkind: Die memoires van ’n randeier ’n pad gebaan deur boekklubs en literêre feeste en vanjaar ook sy buiging op die verhoog gemaak met Geon Nel in die naamrol. Heinz Mödler praat met hom oor sy Engelse vertaling, Son Of a Whore, hoekom die storie van ’n randeier mense so aangryp, en wat dit aan hom gedoen het om sy hart – en sy lewe – so op papier uit te stort. Geon Nel lees voor.
60 min | 13 Oktober 09:30| EasyEquities-Boektent| R75 | R100 by die deur
Taal: Afrikaans
Aangebied deur Penguin Random House
~
JONNY STEINBERG: PORTRAIT OF A MARRIAGE
Biografie
Van Winnie & Nelson: Portrait Of a Marriage skryf JM Coetzee dat dit ’n biografie is wat waarskynlik vir baie lank nie oortref sal kan word nie. Hierin beskryf Jonny Steinberg Nelson Mandela as ’n “briljante toneelspeler” – ’n veiligheidsmeganisme wat hy aangeleer het toe hy op 11 van sy geboortedorpie na die Temboe-koningstuiste geneem is waar hy uit plek en verneder gevoel het. Van Winnie sê hy weer hoe sy as die middelste van 11 kinders altyd die guns van haar pa probeer wen het en hoe haar martelaar op Brandfort dié swakplek raakgesien en uitgebuit het. Jean Meiring vra Jonny oor Zoom uit oor ’n verhaal van ’n uitmekaar geskeurde huwelik – een van maskers en een wat hy glo op ’n donkerder manier die verhaal van Suid-Afrika is.
60 min | 9 Oktober 16:00| EasyEquities-Boektent| Gratis
Taal: Afrikaans en Engels
Aangebied deur Jonathan Ball Publishers
~
ONDER ’N BLOEDROOI HEMEL
Eieverhaal
Annemarié van Niekerk vervleg haar lewensverhaal, Onder ’n bloedrooi hemel, aangrypend en brutaal eerlik met ’n verkenning van die groot kwessies in ons land: geweld teen vroue, skuld en onmag, aandadigheid en keuse, maar ook haar persoonlike ervaring van die moord van ’n geliefde en wat dit aan ’n mens doen. Lindie Koorts vra haar uit oor wat uiteindelik ’n ontroerende reis word van geweld tot genade.
60 min | 13 Oktober 13:00 | EasyEquities-Boektent| R75 | R100 by die deur
Taal: Afrikaans
Aangebied deur Tafelberg
~
MARIUS WEYERS: ’N LEWE
Biografie
Katinka Heyns gesels met Chris Vorster oor Marius Weyers, Chris se splinternuwe biografie van ’n akteur wat diep spore in ons vermaaklikheidswêreld getrap het en met wie Katinka – én Chris – al ’n lang pad loop. Marius wou nooit ja sê vir ’n biografie nie – sy verweer was altyd “die tyd is nie reg nie”. Maar Chris kon hom uiteindelik ompraat. Die eindproduk is ’n intieme blik op ’n omvangryke loopbaan en ’n lewe gelééf. Marius maak oop oor die uitdagings en sukses, maar ook tye van groot alleenheid en moedeloosheid. Hy vertel snaakse staaltjies van hoe erg dinge kon skeefloop, en onthou die mentors op sy pad. Deur al die stories heen loop daar egter ’n goue draad: die liefdesverhaal van Marius en sy vrou, die beeldhouer Evette wat onlangs oorlede is.
60 min | 09 Oktober 15:00 | Victoria Hub: Gesprekslokaal | R75 | R100 by die deur
Taal: Afrikaans
Aangebied deur Protea Boekhuis
~
‘RECKLESS DAUGHTER’ JONI MITCHELL
Musiek
Joni Mitchell het die wilde 60’s en 70’s, ’n lang lys beroemde minnaars, chauvinistiese musiekbedryf, en in 2015 ook ’n breinaneurisme oorleef. Sedertdien moes sy weer leer praat, loop en kitaar speel, maar vanjaar word sy 80 nadat sy in 2022 triomfantelik na die Newport Folk Festival teruggekeer het. Joni het die grense van folk, jazz en pop verskuif en haar 1971-bundeltjie handgeskrewe lirieke en sketse, Morning Glory On the Vine het met sy heruitgawe in 2019 ’n blitsverkoper geword. Kerneels Breytenbach, Danie Marais en Desmond Painter bespreek haar lewe, musiek en woorde in ’n huldeblyk wat ingekleur word met interpretasies van haar ikoniese liedjies deur Lise Swart, Andries Bezuidenhout, Schalk Joubert en Riku en Jackie Lätti.
92 min | 14 Oktober 16:00 | Drostdy Teater | R75 | R100 by die deur
Taal: Afrikaans
~
SHACKLETON, MY FATHER AND
A WORLD WITHOUT END
Niefiksie
Darrel Bristow-Bovey gesels met Marita van der Vyfer oor sy nuwe boek wat begin met die jubeling toe die houtwrak van Ernest Shackleton se Endurance in Maart verlede jaar – nogal deur die SA ysbreker, die SA Agulhas – in Antarktika se Weddell-see ontdek is. Sy onwaarskynlike band met dié nuus is egter dat sy pa altyd vertel het hy was op Endurance. In Finding Endurance herskep hy die epiese oorlewingstog aan die hand van roerende dagboeke en vorige ekspedisies. Hy reis terug op sy eie en sy pa se voetspore om sin te maak van mans en hulle drome. Hy skryf oor die hunkering na ’n landskap sonder einde, maar veral die menslike gees se vermoë om uit te styg wanneer alles verlore lyk.
60 min | 10 Oktober 16:00 | EasyEquities-Boektent| R75 | R100 by die deur
Taal: Engels
Aangebied deur Jonathan Ball
~
SIHLE KHUMALO: MILK THE BELOVED COUNTRY
Niefiksie
Moenie jou laat flous deur dié geliefde skrywer se sin vir humor nie. Ná vier reisboeke, wat die topverkoper Rainbow Nation My Zulu Arse, ‘n literêre toekenning en reise deur meer as 20 Afrika-lande met net openbare vervoer insluit, stel Sihle Khumalo) in Milk the Beloved Country sy visier op die land se geldsake. Hy praat padlangs met Johann Kriegler oor die rol van die groot Afrikaner ondernemings voor 1994 en gee ’n ander siening van swart entrepreneurskap.
60 min | 9 Oktober 13:00 | EasyEquities-Boektent| R75 | R100 by die deur
Taal: Engels
Aangebied deur Umuzi
~
SILICON STELLIES’ SMART-TOWNSHIP
Staptoer
Wesley Diphoko is die redakteur van die tegnologietydskrif Fast Company SA en skrywer van ’n boek oor Stellenbosch as SA se eie Silicon Valley wat in Februarie verskyn. Hy het ook in Kayamandi grootgeword en is een van die dryfvere agter die Smart-Township- konsep wat Kayamandi as ons eerste slim-township sal vestig. In Silicon Stellies skryf hy dat dit juis dié township se toegang tot Stellenbosch se tegnologie-entrepreneurs, waagkapitaliste en universiteit is wat dit die ideale innovasielaboratorium maak om uitdagings in soortgelyke omgewings aan te spreek. Wesley wil mense in sy grootwordbuurt wys hoe inwoners en mikro-entrepreneurs by digitale tegnologie baatvind. Sy toer skop af met ’n praatjie en uitstalling en eindig by sy ouma se huis, wat deur tegnologie-ingryping in ’n slimhuis verander is.
60 min | 11 en 14 Oktober 10:30 | AmaZink| R75 | R100 by die deur
Taal: Engels
Aangebied deur Tafelberg
~
SKATRYK, MAAR HOE?
Sake
Deur moeilike saketoestande laat Suid-Afrikaanse ondernemers hulle nie afskrik nie. Van diamante tot die kleinhandel, tegnologie tot die bankwese het die land al verskeie indrukwekkende entrepreneurs opgelewer. Maar hoe bou ’n mens ‘n Anglo American of Shoprite, ’n Naspers of Capitec? Ekonomiese historikus Johan Fourie (Skatryk) en sakebiograwe Niel Joubert (Whitey: Sakereus van Shoprite), Michael Cardo (Harry Oppenheimer: Diamonds Gold and Dynasty) en TJ Strydom (Koos Bekker’s Billions) ontleed die land se wen-ondernemings en die omgewing waarin ons nog sulkes kan bou.
60 min | 12 Oktober 11:00 | EasyEquities-Boektent| R75 | R100 by die deur
Taal: Afrikaans
Aangebied deur Jonathan Ball, Penguin Random House en Tafelberg
~
STEFAANS COETZEE: ONBESKRYFLIKEGENADE
Eieverhaal
Hy is ’n skrywer, radio-omroeper en vryskutresensent. Maar die naam Stefaans Coetzee is ook sinoniem met ’n aaklige verlede, en hierdie is sy storie. Bettina Wyngaard wil meer weet van Onbeskryflike genade, ’n verhaal van hunkering na ’n nuwe begin, van bevryding, ’n nuwe begin en die lekkerte van pa-wees. Dit is ’n verhaal van hoop en, ja, onbeskryflike genade. Die gesprek begin met ’n uittreksel uit die aangrypende dokumentêr oor Stefaans se lewe.
60 min | 11 Oktober 09:30 | EasyEquities-Boektent | R75 | R100 by die deur
Taal: Afrikaans
Aangebied deur Lux Verbi
~
THE POWER OF US
Niefiksie
Roelf Meyer gesels met Songezo Zibi (Manifesto), oud-redakteur van Business Day en met sy politieke beweging Rise Mzansi een van ’n nuwe generasie jong politici wat die ANC aanvat, en die arbeidsregadvokaat Frans Rautenbach (Help Yourself South Africa) oor praktiese hervorming en hoe demokrasie vereis dat gewone sake- en beroepslui hand uit die mou steek om ons land laat werk.
60 min | 13 Oktober 11:00 | EasyEquities-Boektent | R75 | R100 by die deur
Taal: Engels
Aangebied deur Footprint Press en Pan Macmillan
~
TRAMA KASIE VIR ARABIES
Taalkunde
In sy komiese reeks Living …-sketse oor die lewe in ’n Moslembuurt speel die bekende skrywer en TV-aanbieder Yusuf Daniels met woorde soos kanala, trama kasie, salaam en oemie. Yusuf lees voor as deel van ’n gesprek tussen Shamiega Chaudhari, Hein Willemse en Mogamat Alexander, waarin die Arabiese wortels van hierdie woorde en die ryk erfenis van Afrikaans uit die Kaapse Moslemgemeenskappe verken word. Hein het die voorwoord geskryf vir die heruitgawe van wyle Achmat Davids se The Afrikaans of the Cape Muslims(nou The Arabic Afrikaans Writing Tradition), terwyl Mogamat Dictionary of Loanwords in the Cape Muslim Vernacular saamgestel en uitgegee het.
60 min | 11 Oktober 15:00 | Victoria Hub: Gesprekslokaal | R75 | R100 by die deur
Taal: Afrikaans
Aangebied deur Jacana Media
~
VAN HIER TOT VER IN DIE WÊRELD
Vertellings
Altwee boeke is ’n venster: Deur Hierdie land sien ons tot in die hart van Suid-Afrika, en deur Ver in die wêreld kyk ons na die lewe in die buiteland. Frederik de Jager gesels met Valda Jansen, Julian Dewette, Cas Wepener, Gielie Hoffmann en Ménan van Heerden oor hulle bydraes – die absurde, snaakse, kosbare, die uitdagings en verlies wat gepaardgaan met die lewe as ’n emigrant, maar ook as ’n Suid-Afrikaner vandag
60 min | 9 Oktober 11:00 | EasyEquities-Boektent | R75 | R100 by die deur
Taal: Afrikaans
Aangebied deur Protea Boekhuis en Tafelberg
~
WITBOORDJIE-SKURKE
Sake
In The Unaccountables identifiseer Open Secrets se Hennie van Vuuren en Abby May 35 name van magtige sakemanne en maatskappy wat by ekonomiese misdaad betrokke is, maar nog nooit tot verantwoording geroep is nie. Hulle deel die verhoog met die voormalige NVG-aanklaer Hermione Cronje en Rob Rose, die Financial Times-redakteur wat in Steinheist: Markus Jooste, Steinhoff en SA die sluier gelig het oor die verbluffend leuenagtige boekhouding van Jooste. AmaBhungane se Pauli van Wyk lei die gesprek.
60 min | 9 Oktober 09:30 | EasyEquities-Boektent | R75 | R100 by die deur
Taal: Afrikaans en Engels
Aangebied deur Jacana Media en Tafelberg
~
SKRYWERSLANGTAFEL
EasyEquities-SKRYWERSLANGTAFEL
Met Bibi Slippers en Heindrich Wyngaard as aanbieders
Vanjaar vier ons ’n nuwe bewussyn van hoe kosbaar menslike kontak en kommunikasie is, hoe afgeslote die afgelope twee jaar se pandemie en die “beleg” van die daaropvolgende landskrisisse ons noodwendig laat leef het, en ontdek ons eerder die Nederlandse betekenis van ’n borrel: ’n uitbundige partytjie. Kom sit daarom aan om ’n lang tafel met tien skrywers, hoor wat hulle omtrent hulle boeke vertel en vra hulle sommer ook persoonlik uit. Met Cas Wepener, Eben Venter, Barbara Masekela, Nicole Jaekell-Strauss, Bettina Wyngaard, Sihle Khumalo, David Viviers, Rina Cascione, Julian Jansen en Quintus van der Merwe
150 min | 7 Oktober 18:00| De Volkskombuis | R500-R750
Taal: Afrikaans en Engels
Aangebied deur Jonathan Ball Publishers, Naledi, Protea Boekhuis, Queillerie, Tafelberg en Umuzi