Die Kalahari Woestyn, sy Khoisan inwoners, met hul gewoontes en tradisies
Die oorspronklike Latynse woord is dēserēre, wat beteken onbewoon en verlate, woes en dor. Bekende woestyne is die Arktiese en Antarktiese woestyne, die Sahara, die Kalahari, die Gobi woestyn en die Namib.
Ons kry warm droë woestyne, half- droë kuswoestyne, en koue woestyne. Warm, droë woestyne is ariede woestyne, dor, waterarm, onvrugbare streke met hoë temperature dwarsdeur die jaar. Van hierdie woestyne is daar vier soorte in Afrika: die Sahara, die Kalahari, die Karoo streke in Suid-Afrika, en die Namib woestyn. Ons kry vyf tipes woestyne: warm woestyne, kuswoestyne, reënskadu- woestyne, binnelandse woestyne, en die woestyne van die poolstreke. Reënskadu-woestyne is beskut deur berge of heuwels en het dus n ligter reënval aan die lykant as aan die windkant.
Ons het twee belangrike warm, dorre woestyne: die Sahara, en die Mojave woestyn, geleë in die suidweste van die V.S.A. Die vernaamste droë, warm woestyne in Noord-Amerika is die Chihuahuan, die Sonoran en die Mojave woestyn. Woestyn biome –met lewende kreature- beslaan ongeveer twintig present van die aarde se oppervlakte.
Die Sahara, met ‘n area van ongeveer nege miljoen tweehonderd duisend vierkante kilometer, is die grootste warm woestyn in die wêreld. Dié woestyn strek oor tien lande nl. Algerië, Chad, Egipte, Libië, Mali, Mauritanië, Morokko, Algerië, Soedan en Tunisië. Die duine van die Sahara bereik hoogtes van tot honderd-en-tagtig meter. Die Emi Koussi vulkaan is die hoogste punt in die woestyn, met ‘n hoogte van drie duisend vierhonderd -en –vyftien meter. Duine beslaan ongeveer vyf-en-twintig present van die hele woestyn. Akkedisse, kamele, jakkalse, en baie ander wildslewe kom in die Sahara voor.
Die naam ‘Sahara’ is ontleen aan die Arabiese word ‘Sahrā’ wat ‘woestyn’ beteken. Hierdie woestyn beslaan byna die hele Noord-Afrika, ongeveer 8.6 miljoen vierkante kilometer. Dit is die 3de grootste woestyn op aarde, net na die Arktiese-en Antarktiese woestyne, en dit word gereken dat die Sahara nog groter word. Dagtemperature styg tot 47%C nagtemperature kan daal tot +- 4%C. As gevolg van gebrek aan vogtigheid in die woestynlug is die lug nie in staat om die hitte wat gedurende die dag deur die sand opgeneem is te behou nie en dit word koud gedurende die nag. Die Sahara-klimaat is subtropies. Somerreëns kom voor, met verskillende plantspesies soos die olyf, sipres, en mastiekbome, n soort lymboom. In die hooglande is spesies van akasia [doringbome], Artemisia, doempalm, oleander of selonsroos, dadelpalm en tiemie. Die meeste van die kruidagtige plante ontkiem na drie dae van genoegsame reën.
‘Kalahari’ is n Tsawa-woord wat beteken ‘Groot Dors’. In die 1956 ekspedisie om die ‘verlore stad’ van die Kalahari te vind, was die vragmtor genoem die ‘Kalahari Polka.’n Polka is n vinnige, springende dans. Die lorrie het miskien baie gespring. Die Kalahari in Suider-Afrika het ‘n subtropiese klimaat.
Die Kanadees, Guillermo Farini, was een van die eerstes om die onverekenne Kalahari te besoek in 1885. Die stad, Kweneng, was eens n vooruistrewende stad in die 1400’s totdat dit vernietig is deur burgeroorloë in die 1820’s. Farini het daarop aanspraak gemaak dat hy n groot, verlore koninkryk gevind het in die hart v;an die Kalahari. Dit is nooit bewys nie.
Die Kalahari is ‘n groot semi-ariede sanderige savanna in Suider-Afrika, uitgebrei tot ongeveer 900,000 vierkante kilometer. Byna die grootste gedeelte van Botswana, die oostelike derde van Namibië en die mees noordelike dele van die Noord-Kaap word beslaan deur dié woestyn. Temperature van uiterstes geld in die Kalahari. Op n smoorhete agtermiddag is al 70 grade celcius op grondvlak gemeet in die Kalahari, en tot -14 grade celcius in die rypwit winternagte. Dit is die tweede grootste woestyn in Afrika, en hier kan met vee geboer word. Die Kalahari is nie ‘n algehele woestyn nie, want daar is redelike plantegroei en diverse soorte wildlewe. In die woestyn kom voor plante soos die akasiasoorte: die kameeldorigboom, die soetdoring, meestal op die duinkruine, die driedoring, die swarthaak, en verskillende soorte vygies; onder andere.
Baie soorte meerkatte loop in die Kalahari. Hulle is familie van die streep muishond. Altyd is daar n wag wat bo-op n miershoop sit of in ‘n boom, om die waarskuwing te gee as gevaar dreig, veral in die vorm van valke en arende; dan vlug hulle blitsvinnig in hul gate in. Hier word gevind die kelkiewyn, n soort patrys. Die naam verwys na die vlugroep van dié voël: ‘ kelkiewyn, kelkiewyn, kelkiewyn…’ Ons kry ook die sandpatrys in die Kalahari wat tot 80 kilometer ver vlieg na water, en dan weer terugvlieg met water in die borsvere gestoor vir die kleintjies in hul sandneste. Die bakoorjakkals is n grys jakkalsie met groot bakore, en leef hoofsaaklik van woestyndiertjies soos muise en akkedisse. Dié jakkals word in droë, oop streke aangetref en word ook genoem die draaijakkals of die silwerjakkals. Met sy wollerige stert wat hy van kant tot kant gooi kan hy sy rigting blitssnel verander, veral in vlug, en dan die silweragtige streep hare op sy rug. Die rooijakkals of swartrug kom ook in die woestyn voor. Die gevlekte hiëna, en veral die bruin hiëna loop in die Kalahari. Al drie die groot katte van Afrika kom ook hier voor: die jagluiperd, die luiperd, en die leeu. Die leeus wat in die Kalahari loop is die groot swartmaanhaar, die rooimaanhaar, die gladde rooie en die kleiner, maar meer gevaarlike gespikkelde Kalaharileeu.
Die Kalahari het bestaan as n binnelandse woestyn vanaf die “Cretaceous Period,” die Kryttydperk, 65 tot 135 miljoen jaar gelede. Hierdie half-woestyn het periodes gehad van groter vogtigheid, en ook tydperke van dorheid wat gedokumenteer is in die fossiel-duinevelde. Dit was gedurende ‘n periode van groter reënval dat die Makgadikgadi terreininsinking in noordelike Botswana gevorm is. Dit was ‘n saai, golwende sandwildernis met ‘n gemiddelde grootte van +- 576,000 vierkante kilometer. Onder hierdie groot kombers van rooi sand lê groot skatte van yster, mangaan, en ander kosbare ertsafsettings. Die woord “Kalahari” is ontleen aan die Botswana-woord “Makgadikgadi.”
Die rooi kleur van die sand word veroorsaak deur die ysteroksied – omhulsel van die sanddeeltjies, veral in die droogste suidelike Kalahari. In die natter noordelike dele word die omhulsel weggepiets deur die reëndruppels om die ware geler pastel- kleur bloot te lê. Die gemiddelde reënval is meer as 250mm. per jaar en dit onderskei die Kalahari van ‘n ware woestyn. Hierdie sondeurdrenkte Kalahari met sy ariede, golwende landskap, eindelose horisonne en glansende ruimtes, wek pragtige herinneringe op van ‘n éwige land. Die dor sand van die Kalahari is ‘n half-vergete stoorplek van koolsuurgas, getrek uit die atmosfeer, asook allerhande soorte bakterieë.
Die Kalahari is die sesde grootste woestyn in die wêreld en die tweede grootste in Afrika.
Daar is nog van die Khoisan populasie in die diep Kalahari wat nog die tradisionele gewoontes van hul stam toepas. As daar reën in die woestyn geval het, dan sal die ‘Boesmans’ wat op die plase werk die volgende dag nie meer daar wees nie. Hulle ruik die reent en sien die weerlig vêr op die horison uitslaan. Dan trek hulle agter die wild aan wat eerste bewus geword het van reën in die Kalahari. Water is die grootste seën wat dier en mens, veral boere, kan ontvang in die woestyn. Water is n belangrike kommoditeit, en dit kan die verskil beteken tussen uitboer en miskien plaas verkoop en dorp toe trek, of aanbly en léwe; of sterwe. Baie boere, en ook hul vrouens, pas baie moeilik aan in n dorp of stad, of glad nie.
Ongeveer 100,000 Khoisan –mense lewe vandag in Botswana, Namibië, Suid-Afrika, Angola en Zimbabwe. Hulle het gelewe in suidelike Afrika vir tienduisende jare, en die jagter-versamelaar tradisie word nog diep in die duine gelewe. Dié mense se uitsonderlike kennis van plante en diere van hierdie streke is wyd bekend. Verskillende name word ook aan die Khoisan toegedig: San, Basarwa, Khwe, Twa, en ander. Die basiese betekenis van dié benaminge is eintlik “sonder besittings en lewende hawe.” Dawid Kruiper en sy voor- en nasate was en is die leiers van die Khoisan in Suid-Afrika. Hierdie mense is gelerig van kleur, klein van postuur met hoë wangbene.
Hul jagvermoëns is ook uitsonderlik. Die Khoisan skiet met ‘n pyl en boog, en die lood-of houtpunt van die pyl wqrd besmeer met gif verkry van papies wat aan die gannabossies in die duinstrate groei. Hulle berei ook gif van die wortels van sekere plante in die Kalahari. Ook die gif van sekere slange word gebruik. Hierdie gif is dodelik en het n pynlike dood tot gevolg.
Die Khoisan het in isolasie gelewe vir miskien 30,000 jaar, en in dié tyd het vaste gewoontes en tradisies gevorm, waarvan sommige uitgewis is deur die ‘beskawing’ waarin baie leef en werk. Hulle grou kambro, n patatagtige knolplant uit, en die tsamma wat bo-op die grond lê word ook gebruik vir voedsel en water. Die tsamma is groenerig met bleekgeel kolle daarop. Hierdie mense haal meerkatte en hase met lang, slap wag-n-bietjie latte uit gate in die sand en eet ook slange, muise en woestynwurms. Hul dieet word afgewissel deur verskeie plante en wortels.
Die Khoisan weet dat dit feitlik onmoontlik is om n springbok te bekruip, want hierdie bok word beskou as die waaksaamste bok van die veld. Hulle weet ook dat die volstruis die skerpste oë het van alle diere wat op die veld loop; in die Kalahari. Van die hakskeensening van die volstruis word hul boogsnare gemaak. As hy miskien ‘n eland wil skiet, skiet hy hom agter die blad, waar hy weet die vel die dunste is, sodat die pyl diep in die hart indring. Die eland is die grootste wildsbok van die veld. As die gekweste bok afdraai van die groep volg die jagter sy spoor. Die Khoisan word beskou as die beste spoorsnyers in die wêreld. As hy eenmaal die spoor van ‘n mens of n dier gesien het vergeet hy dit nooit. Almal van n sekere groep wat in ‘n streek bly ken mekaar en hy sal weet aan wie daardie spesifieke spoor behoort.
Die jagter kan sien as die gekweste bok amper klaar is. Sy kloue kom nie meer netjies bymekaar nie; die punte staan van mekaar af weg. Die agterpote trap ook nie lynreg agter die ander vas nie. Sy kop hang en daar is skuim aan sy bek. Die bok gaan staan. Hierdie trotse dier is op sy laaste. As die bok gaan lê, in die sagte sand, sny die jagter die slagaar oop tussen die oë en drink die bloed; dan haal hy een oog uit en sluk dit heel in; daarna dans hy die dans van die eland rondom die dooie bok. Hy maak die merk van die ‘Boesman’ by die dooie bok sodat ander dit nie kan toeëin nie. Dan gaan haal die jagter sy groep. Die eland is die wildsbok van die Maan, volgens die Khoisan geloof. Hierdie bok het byna geen netvet nie, maar baie vet word in die bors gestoor. Geen mens mag op ‘n ander se bok se spore loop nie. Dit is die wet van die veld.
Na ‘n veldbrand en daarna ‘n vlagie reën loop die nuwe jong gras vining weer uit in die brand. Die velddiere is lief vir die groen gras.
As ‘n jagter dié dag niks geskiet het nie moet die vroue hom slaan met stokke sodat hy n beter jagter kan word. As hy vir drie dae nie n bok geskiet het nie kan hy maar wegloop van die groep, en mag hy nie saam met die vroue loop in die tyd van die vroue nie, want hy sal nie vir sy kinders kan sorg nie.
In goeie reënjare trek baie groepe Khoisan na die Brandberg, die hoogste berg in Namibië, om hulle tekeninge daar te maak. Van Agarob se groep sterf daar op die wrede trek deur die woestyn na die berg, veral ou mense en kinders. Vroeg een oggend sleep die jagters doringtakke bymekaar. Een van die óú vrouens het die vorige nag baie lank na die ander eers by die vuur aangekom. Die vrouens suig water en die mans dans die Dans van die Dood, al in die rondte rondom die vuur. Agarob maak ‘n droë, uitgeholde tsamma aan die punt van sy boog vas. Hy knyp die punt waar die kalbassie aan vas is tussen sy tone vas en begin liggies met ‘n pyl op die snaar tik, terwyl hy die boog slapper en stywer laat span. Hy sing ‘n eentonige hartseer liedjie wat die Khoisan altyd sing as hulle die Dans van die Dood dans. Agarob tik op sy boogsnaar; die vrouens sing. Die óú vrou sit roerloos by haar vuur, starend in die diep, amber vlamme.Hulle sit twee volstruiseierdoppe met water by haar neer en slaan die laaste takke toe.”Rus mooi ou vrou sodat jy vars is om na die Maan toe te loop,”sê Agarob. Sy sê niks. Sy verstaan. Dit moet so wees. Dit is die manier van die ‘Boesmans.’ Daar is ‘water’ in haar oë.
Hulle kom op die rand van die diep woestyn aan, op pad na die Berg. Tot hiertoe was daar nog plek-plek n paar droërige kameelbome, swarthaak, witstambome, en wag-‘n-bietjie bosse, maar nou strek net die golwende rooi duine van die Kalahari voor hulle uit. Hier en daar klou ‘n enkele bossie teen die rooi sand vas; in die duinstrate staan daar gannabossies en ‘n paar droë graspolle. Alleen die mees geharde diere van die veld waag dit ooit verder. Die groepie van omtrent twintig Khoisan maak vuur; teen die ondergaande son.
Toe die môrester sy kop uisteek is die mense al op pad. Na n paar dae kom hulle by die Brandberg aan, die heilige berg van die Maan. Daar is al ‘n hele paar ander groepe. Ná die verskriklike trek deur die woestyn, is die mense moeg en baie slaap langs die vure. Dit is n gewyde tyd by die Berg. Die Khoisan aanbid die Maan deur prente te maak op die grotmure, en om te dans. Veral die dans; dit is die hoogtepunt van hul verrigtinge. Van al die diere van die veld dans die Khoisan ‘n dans; ook as hulle dié dag n bok geskiet het, miskien ‘n koedoe, word die dans van die koedoe gedans. Ook as hulle die volgende dag beplan om ‘n koedoe te skiet bv.,word dié dans gedans. Danse van die wind, die son , al die bome en die gras, en natuurlik baie danse van die Maan. Daar is danse dat alle vroue in die volgende jare kinders moet hê en om die slegte jagters weg te hou sodat geen tweelinge gebore word nie. Die Khoisan glo dat tweelinge ‘n slegte voorteken is vir hul voortbestaan. Tweelinge moet aan die tier gegee word sodat hy hulle vleis na die Maan kan vat om uit te brand.
In die aande vertel die ou mense stories aan ‘n oopmond – gehoor. Net die oudstes ken die ingang na die Heilige grot van die Maan. Hulle tel ‘n groot plat klip op, en dáár is die ingang van die grot. In hierdie grot is baie honderde, tot duisende pragtige tekeninge deur die ou óú jagters van die verlede gemaak. Hulle sien ook die prent van die Witvrou van die Brandberg. Volgens oorlewering het sy baie, baie reëntye gelede by n groep ‘Boesmans’ uitgekom en in die Heilige grot het sy haar prente gemaak; en ook ver in die wêreld van die witmense. Sy het nooit met die vrouens geloop in die tyd van die vroue nie, en daarom het sy ook geen kinders gekry nie. Sy het altyd sagte steenbok velletjies om haar onderlyf gedra, en iets soos n kroon op haar kop, en elke keer as hulle by die Brandberg bymekaarkom het sy met ‘n ander groep weggetrek.
Daar is prente van mense en diere van die veld. Miskien die prent van ‘n man met n pyl-en –boog wat na n bok skiet. Vroumense word nie toegelaat om wild te skiet nie; hulle moet veldkos versamel soos eetbare wortels en plante.Die kennis van plante en diere van die Khoisan is fenomenaal. Hulle prente is n spontane selfopenbaring van die kunstigheid, en die liefde vir die skilderkuns, en van plante en diere van hierdie volkie.
‘n Vermoeide, uitgeputte groepie ‘Boesmans’ kom op die rand van die dooie sand aan op hul pad terug van die Brandberg. Hulle eet ‘n paar droë tsammas, en dan geluk dit Agarob om n groot koedoebul te skiet. Die jagters sny die slagaar oop en drink alle bloed wat uitloop; dit gee nuwe krag. Gedurende die groot droogtes word alle tsammas gevoer vir die verwagtende moeders, en vir die kinders. Die ontsettende trek deur die woestyn, sonder genoegsame kos en water, veroorsaak dat moeders dooie kinders in die wêreld bring. Miskien sal daar misvormde kinders wees wat doodgemaak sal moet word. Ná die dooie duine is daar weer baie wild om te skiet, en ‘n nuwe lewe kan van vooraf begin.
Die Gobi Woestyn is ‘n uitgestrekte, ariede stuk wêreld in die noorde van China en die suide van Mongolië. Dit is bekend vir sy duine en bergmassas met reusagtige rotsformasies. Diere soos die sneeuluiperd en kamele word veral in die Gobi Gurvansaikhan Nasionale Park aangetref. Van die Koughoryn Els sandduine word gesê hulle ‘sing’ as die wind waai. In die park is ook die diep ysveld van die Yolyn Am Canyon. Dinosaurus fossiele is gevind by die Rodi Flaming Cliffs van Bayanzag.
Die Gobi is een van die wêreld se uniekste ekosisteme. Dit is bekend vir sy verbysterende natuurlike rotsformasies; en bestaan uit drie-en-dertig klein woestyne. In oerjare was die Gobi onder die see. Dié woestyn is geleë op ‘n plato van ongeveer 900 tot 1520 meter en word geklassifiseer as ‘n koue woestyn. Bedags is dit warm. Die Gobi is die tweede grootste woestyn in Asië en die vyfde grootste op aarde.
Poolwoestyne is van dié streke van die aarde wat onder ‘n yslaag lê. Hulle word onderskei van die ware woestyne deur baie lae jaarlikse temperature, en ook lae uitdamping. Die aarde se koudste woestyne word in die poolstreke gevind; soos in Groenland en in Svalbard. Die Tundra is die koudste van alle biome. Die Noordpool-tundra is bekend vir sy baie koue woestyn, waar die sneeu nooit smelt nie. So die yslaag moet al kilometres dik wees.
Die woord ‘ Namib’ is van Khoekhoegowab (Khoikhoin)oorsprong, en beteken: baie groot,uitgestrekte plek. Die Namib is ‘n kuswoestyn in Suidelike Afrika. Bekende kusdorpe wat grens aan die Namib is o.a. Luderitz, Walvisbaai Swakopmundt en Oranjemund. By Oranjemund word diamante gedelf. Dié woestyn het ‘n dorre klimaat verduur vir minstens 55-80 miljoen jaar, wat dit miskien die oudste woestyn in die wêreld maak, met ook van die droogste streke op aarde. Slegs die Atakama Woestyn in die weste van Suid-Amerika is ‘n uitdaging vir die temperature en dorheid van die Namib. Die Namib strek vanaf die Atlantiese Oseaan binneland toe oor groot gedeeltes van Namibië, Angola en Suider-Afrika. Dié woestyn word genoem “ Die Lewende Woestyn” en in die duine kom baie woestyn-aangepaste diertjies voor soos torre en kewers, die dunstert woestynmuis, spinnekoppe en goue molle… Ook is daar woestynleeus, woestynperde en gemsbokke. Die Namibwoestyn Park, in die sentrale dele, is die woonplek van wildsbokke, sebras en volstruise.
Dié woestyn huisves meer as 3500 spesies van plante en van die pragtigste natuurtonele ter wêreld. Ons kry o.a.die kremetart, die buffelsdoringboom, die boswilger, jakkalsbessie, knopdoring, die lala palm, die marulaboom en die Welwitschia Mirabilis. Die Welwitschia het net twee blare, gesplete in segmente oor honderde jare van blootstelling aan die elemente. Dié plant word tot 1500 jaar oud; of meer; vasgestel deur radiokoolstofdatering. Die welwitschia se blare lewe die langste in die plante-koninkryk en word uitgerafel en verskrompel met die verbygaan van die eeue. Die blare word tot ses meter lank en ongeveer 179 cm. breed. Sy stam word so breed as een meter, in sy ouderdom. Hierdie plant kan temperature oorleef van tot 65 grade celcius op grondvlak, en die dik blare hou die grond onder die blaar koel en vogtig. Daarom kan dié plant tot 150 meter van blaarweefsel produseer oor ‘n groeitydperk van ‘n 1000 jaar. Die plant se huidmondjies is oop in die aanwesigheid van vog, maar gaan toe as dit warm is. Wat ‘n wonderbaarlike aanpassing. Geen water kan dus verdamp in die hitte van die dag nie. Hierdie uitsonderlike plant is endemies tot die Namib Woestyn.
Hans Kisting is in die Keetmanshoopdistrik gebore en het in Rehoboth gematrikuleer. Hy het aan die Dower Kollege in Uitenhage studeer en was vir twee-en-dertig jaar ’n onderwyser voordat hy in 2004 afgetree het. Hy woon in Wellington in die Wes-Kaap. Hy sal sy memoires skryf wat ’n blik gee op die Suidwes-Afrika van die 1950’s en wat ook beide sy Nama en Europese herkoms ondersoek.