A place where stories unfold

Jakes Gerwel-gesprekke bring ’n fees van stemme en opinies na Suidoosterfees

Die Jakes Gerwel-gespreksreeks by die Suidoosterfees, wat vanaf 30 April tot 4 Mei by die Artscape plaasvind, word vanjaar met trots deur die Jakes Gerwel Stigting, die ATKV en Netwerk24 na die fees gebring. Joernaliste, skrywers, digters, meningsvormers en struggle-ikone gesels oor hul jongste boeke en sake van landsbelang. 

Al die gesprekke is gratis vir die publiek, maar bywoning moet vooraf deur Webtickets bevestig word. Feesgangers sal ’n bewys van besprekings op hul selfone ontvang wat by die ingang na gesprekke vertoon moet word. Die program is beskikbaar op suidoosterfees.com


Die gespreksreeks skop op Werkersdag, 1 Mei, af met Netwerk24 se Mia Spies wat van Suid-Afrika se voorste ondersoekende joernaliste verwelkom: Pieter-Louis Myburgh, Karyn Maughan, Jana van der Merwe en Caryn Dolley. Dié ervare verslaggewers deel gedagtes oor die dikwels gevaarlike omstandighede waarbinne hulle ongemaklike waarhede oopvlek en die publiek van erge ongerymdhede inlig. 

Karyn Maughan se boek I Will Not Be Silenced het pas verskyn, Caryn Dolley is die skrywer van Man Alone en Pieter-Louis Myburgh het die land regop laat sit met sy Gangster State en The Republic of Gupta. Jana van der Merwe, uit wie se pen verskeie trefferboeke verskyn het, is onlangs as ondersoekende redakteur by Netwerk24 aangestel. 

Karyn Maughan se boek I Will Not Be Silenced

Karooseun van Vosburg voorblad (002)

Franklin Sonn se biografie, Karooseun van Vosburg, word ook bekendgestel. Dié struggle-ikoon, diplomaat en oudkanselier van die Universiteit van die Vrystaat sal met Nico Koopman in gesprek tree. 


Antjie Krog, een van Suid-Afrika se literêre supersterre, gesels oor haar nuutste boek, Die binnerym van bloed, ’n outobiografiese roman wat handel oor Krog se komplekse en liefdevolle verhouding met haar moeder, Dot Serfontein. Die boek, ontroerend en ook soms skreeusnaaks, verskyn gelyktydig in Afrikaans en Engels, en ’n Nederlandse vertaling sal inwoners van die Lae Lande ook binnekort oorrompel. 

Die binnerym van bloed Antjie Krog

Jonathan Jansen

Nog ’n outobiografie wat groot belangstelling uitlok, is Jonathan Jansen se Breaking Bread. Dié bekende en dikwels omstrede opvoedkundige – ook ’n oudrektor van Vrystaat-Universiteit – vertel aan Lester Kiewit van sy grootwordjare op die Kaapse Vlakte, die rol van ’n inspirerende onderwyser in sy lewe, en hoe dit was om een van die eerstes onder sy tydgenote te wees wat universiteit toe kon gaan. 


In Africa on the Global Stage – who are we playing with? gesels Mandira Bagwandeen met Siphamandla Zondi oor Afrika se toenemende invloed in die globale geopolitiek. Hulle bespreek vrae soos: Behoort ons in Trump se goeie boekies te wees? Moet Suid-Afrika strenger optree teen Rusland en minder kant kies vir die Palestyne? Het die oorlog in die DRK enigiets met ons te doen? 

Siphamandla Zondi

Vishwas Satgar

Politieke sake kom verder onder die vergrootglas in gesprekke soos A Love Letter to the Many met Vishwas Satgar en Dinga Sikwebu, en Smuts and Mandela – The men who made South Africa met Roger Southall, Anthony Butler en Imraan Coovadia.


Jeremy Vearey is op die program in ’n gesprek met Candice Jantjies oor sy oorlogsroman, Rooisand, wat onlangs gepubliseer is.

Zelda la Grange kom vertel meer van die lesse wat sy by oudpresident Nelson Mandela geleer het, en in Conversations with a Serial Killer lig Brin Hodgskiss en Nicole Engelbrecht die sluier oor navorsing wat hulle onderneem het vir hul boeke oor reeksmoordenaars, terwyl Hannes Koekemoer gesels oor sy kriminologiese ondersoekwerk in moordsake. 


Patric Tariq Mellet vertel van sy boek oor die geskiedenis van slawerny aan die Kaap, The Truth about Cape Slavery.

Die skrywer en polemikus Bettina Wyngaard maak na ’n lang afwesigheid weer haar verskyning by ’n kunstefees wanneer sy met Siya Khumalo gesels oor mense se uiteenlopende opinies oor geloofsake op sosiale media. Hulle praatjie word onder die titel Op die markplein – waar almal preek aangebied.


Gevestigde en nuweling-digters en skrywers kry ook die geleentheid om hul werk voor te lees tydens Hardop. Ryan Pedro is by dié vrolike geleentheid teenwoordig saam met woordsmede soos Danie Marais, Paul Kammies, Martina Klopper, Nixon Mateulah, Khadija Tracey Heeger, Kirstin Deane, Sindi Busuku, Keith Lewis, Kabous Meiring, Churchil Naude en die Kaappunters.

Ryan Pedro
Ryan Pedro

Die Stigting vir Bemagtiging deur Afrikaans (SBA) bied ’n bespreking oor Gayle, die gay-kodetaal waarmee gebruikers vroeër jare kon kommunikeer sonder om in die tronk te beland, aan. Sandra Prinsloo lei die gesprek met die flambojante paneellede Cathy Specific, Riaan Visman en Bolla


Paulet Huis, die ontslape Jakes Gerwel se geliefde wegbreekhuis op KwaNojoli, koester sedert 2019 skrywers wat tyd en asem nodig het om stories te skep. In Paulet House – where stories are born kom deel enkele van die 160 skrywers wat oor die drumpel van hierdie sjarmante woning gestap het, hul ervarings. Barbara Boswell, Juliette Mnqeta, Mia Arderne, Sihle Qwabe en Angela Briggs is aan die woord. 


Die rol en toekoms van boeke en boekwinkels by feeste word onder die soeklig geplaas tydens ’n gesprek wat Chareldine van der Merwe met Alma Struwig, Melt Myburgh en Nita Cronjé voer.

 


Jody Hendricks
Jody Hendricks

In Gedrukte media of digitaal – hoe vertolk ons die nuus? gesels Jody Hendricks met Carryn-Ann Nel, Crystal Orderson en Ryland Fisher oor die vinnig veranderende medialandskap, sowel as hul ervaringe en perspektiewe oor die huidige stand van die joernalistiek.


Ingrid Jones ontvang vir Michael Weeder, Frazer Barry, Ilza Roggeband en Asanda Ngoasheng op die verhoog om oor kossake te praat. Ons komvandaan se kosstories fokus op die rol wat kos speel in ons gedeelde erfenis, en hoe dit mense van verskillende agtergronde kan versoen.

Ingrid Jones

Farren Cloete, die dominee van Lambertsbaai se pienk kerk wat ’n groot gevolg op TikTok het, word saam met die TV- en sportaanbieder Johnny Davids deur Haidee Muller-Isaacs onder oë geneem in Die krag om bo uit te kom. Hulle inspireer met verhale oor die seer van die lewe en deel staaltjies oor hoe hulle self al van dwaalpaadjies na normaliteit teruggekeer het.


Boeke van skrywers op die program word by die venue verkoop, en daar is gratis koffie beskikbaar voor en na die aanbiedinge. 

Die Jakes Gerwel-gespreksreeks word aangebied in samewerking met die Andrew Murray-Desmond Tutu-Prysfonds, Botsotso Books, Imprimatur, Jacana Media, Jonathan Ball Publishers, Klyntji, Maverick 451, die SBA, NB-Uitgewers, Penguin Random House SA, Protea Boekhuis, The Obsession Store en Vriende van Afrikaans

Die Suidoosterfees word geborg deur die Departement van Sport, Kuns en Kultuur; die Wes-Kaapse Departement van Kultuursake en Sport; Stad Kaapstad; Netwerk24; Die Burger; NATi; kykNET; die ATKV en Artscape

Leave a comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *