Die Jakes Gerwel Stigting (JGS) en Passa Porta, ’n internasionale letterkundehuis in Brussel, sien daarna uit om twee Belgiese en vier Suid-Afrikaanse skrywers te verwelkom by hul twee weke lange Brussel tot Karoo-residensie by Paulet Huis in KwaNojoli in die Oos-Kaap.
Die Belge Nele Van den Broeck en Gerda Dendooven en Suid-Afrikaners Sibuyiselo Sbuja Dywili, Shireen Mall, Charl-Pierre Naudé en Ayanda Xaba sal die residensie bywoon. Hierdie residensie vorm deel van professor Jakes Gerwel se nalatenskap – hy het in 1979 sy doktorsgraad in letterkunde en filosofie (magna cum laude) aan die Vrije Universiteit Brussel verwerf. Sy lewenslange liefde vir die Vlaamse letterkunde het posgevat gedurende sy tyd daar.
Charl-Pierre Naudé praat met Naomi Meyer oor hierdie residensie wat hy meemaak.
Charl-Pierre, jy is bekend as skrywer, filosoof en digter. Waarom het jy vir hierdie residensie by Paulethuis aansoek gedoen?
Naomi, dit is aan nuwe prosa wat ek tans beoog om aan te werk. Die uitgewer van my Engelse roman wat eersdaags sal verskyn, The equality of shadows (Pan MacMillan), het my aangeraai om aansoek te doen, toe doen ek dit. (Hierdie roman is ’n Engelse vertaling van my roman Die ongelooflike onskuld van Dirkie Verwey.)
Ek was lanklaas op ’n residensie en het vergeet hoe heilsaam dit kan wees vir skryfwerk. In die eerste plek neem jy prikkels in wat nie uit jou gewone omgewing kom nie, so jou waarnemingsapparaat is op “gereedheidsgrondslag”. Dit is al reeds ’n goeie ding. Verslete prikkels se nuutheid, gewoon deur in ander strate rond te loop, word herstel. Somerset-Oos is ’n Oos-Kaapse dorp. Dit is een van die vormendste streke van Suid-Afrika ten opsigte van ons moderne geskiedenis. ’n Bepaalde misterie omklee die wêreld hier, ’n “binnensmondsheid”, ’n historiese gemompel, ’n helderoordagse slaaplopendheid, iets wat jy dink jy van geweet het, maar eintlik net halfpad van gehoor het.
Die versletewording van die platteland tref mens nogal soos ’n vuishou in die maag hier. Interessant genoeg is die voormalige township heel goed onderhou; dit is nuut en vooruitstrewend vergeleke met die historiese dorp waarin Paulethuis, die residensie, geleë is. Dit vertel jou al baie. Afrikaans en isiXhosa is die voertale hier.
En tog is daar pragtige ou huise hier en tussenin ook die onverwagte nuwe juweel. Wat trek enige iemand hiernatoe? Waarskynlik is dit nog ’n knooppunt vir die distrik se boerderye? Ek weet nie.
In elk geval, om jou vraag meer op die man af te beantwoord: Ek het aansoek gedoen om hier ’n tydjie deur te bring omdat die Oos-Kaap, wat natuurlik meer as een “plek” is, vir my op persoonlike vlak sowel as op politieke vlak ’n onmisbare skakel verteenwoordig.
Ek is hier saam met wonderlike kollegas: Vlaminge, een isiXhosa-skrywer, ’n fenomenale jong man waarvan kennis geneem behoort te word en baie gasvrye personeel – Gilbert, die kok en laatnagse waarsêer; Siena en Charmaine, twee wonderlike, sanerende en mooie vroumense wat na ons omsien en die groot tuin. Daar is die parkiete in ’n voëlhok. So my pa is ook hier rond op die werf (vir my). Want hy het kokketiele (soortgelyke voëlsoort) aangehou toe ek nog kind was. Dit was sy stokperdjie.
Lees verder hier: