Fourie Botha, een van ons bekwame mentors van die Kommadagga-slypskool by Paulet Huis, het so pas sy nuutste digbundel, Kolam, bekendgestel. Hy antwoord ’n paar vinnige vrae vir Paulet Huis Stories hier:
Wanneer het jy geweet dat nou die regte tyd is vir ’n nuwe bundel?
Is daar ooit iets soos “die regte tyd”?! ’n Mens werk vir jare aan die gedigte en, sodra jy ’n klompie het, sit jy dit bymekaar om te kyk of dit as ’n bundel kan werk. Die toonaard is belangrik. Die gedigte moet met mekaar praat en na mekaar verwys op maniere wat (vir my!) sin maak. Dan stuur jy dit na die uitgewer toe en hoop die geluk is aan jou kant en dat die manuskrip sal inpas by hulle planne.
Tree Kolam in gesprek met jou vorige werk?
Ja, die verskillende bundels tree met mekaar in gesprek. Daar word soms gesê ’n skrywer skryf net een boek, maar hy skryf dit oor en oor. Miskien werk gedigte ook so. Ek volg dieselfde struktuur as in Donkerkamer en Krap uit die see. Daar is ’n programgedig, en afdelings wat van buite na binne beweeg. Die emosionele lading in die drie boeke verskil. Donkerkamer is melancholies, Krap is kwaad; ek is nie heeltemal seker wat Kolam is nie.
Het jy iets nuuts oor jouself as digter met dié bundel agtergekom?
Ek kan nie juis sê dat ek iets heel nuuts oor myself as digter met hierdie boek agtergekom het nie, maar ek het wel nuwe goeters in die gedigte probeer. Ek het meer aandag gegee aan digters wat anders skryf as ek.
Het jy self Kolam-kunswerke tuis?
Daar’s g’n kolams in my huis nie – ek is nie die dreamcatcher-en-wierook-tipe nie. Die titel was ‘n kopseer en het eers baie later gevolg. Gelukkig is dit nie ongewoon nie. As ‘n uitgewer weet ek boek- en manuskriptitels is baiekeer verskillend.
Bonus: Het jy jou tyd by Paulet Huis gebruik om aan Kolam te werk?
Ek het inderdaad aan Kolam by die Paulet Huise gewerk. Die gedigte “Die maan sal bly blom”, “Eenoogpappie” en die vertaling “Besetenes in die tuinsering” is in die Oos-Kaap geskryf. Een nag het ek deur ’n trop beeste in die straat geloop. Die reuse-diere in die donker het my oorrompel.
Botha is ’n redakteur tydens die week, ’n digter oor die naweek en ’n leser wanneer wakker (volgens ’n kort biografie in die skrywer se eie woorde). Die titels wat hy as redakteur gepubliseer het sowel as sy eie digkuns, het al lof verdien. Sy debuutbundel, Donkerkamer (2011), het op die kortlys vir die toekenning van die Ingrid Jonkerprys verskyn, en hy publiseer sy tweede digbundel, Krap uit die see, in 2017.
Kolam is nou beskikbaar.
Ons van die huis van stories sien uit daarna om dit te lees, Fourie! Lees hieronder ’n gedig uit die nuwe bundel.
