A place where stories unfold

Paulet Huis-skrywers skitter vanjaar by die Toyota Stellenbosch Woordfees

Dit is altyd ’n vreugde om die skryfwerk van skrywers wat tyd by Paulet Huis deurgebring het by boekbekendstellings of as verhoogproduksies te sien. As jy van 28 September tot 6 Oktober 2024 in Stellenbosch is, kan jy die volgende verhoogproduksies en boekbekendstellings van voormalige Paulet Huis-inwoners bywoon:

Verhoogproduksies

Gas
geskryf deur Geralt Renaldo Cloete

Dawid keer ná 15 jaar terug na Alexanderbaai met ’n belangrike opdrag. Hy moet toesien dat die gemeenskap van sy grootworddorp goedkeuring gee vir ’n staatsprojek wat die hele Suid-Afrika gaan raak. Dawid se suster, Maria, wat al jare lank van hom vervreem is, is egter vasbeslote om ’n stokkie te steek voor dié projek wat die vissersgemeenskap se lewe ingrypend gaan ontwrig.

Met Elton Landrew, Jill Levenberg
Vervaardiger Nama Khoi Productions
Regisseur Dean Balie
Tegniese versorging Dian Harcovecchio
Moontlik gemaak deur Jakes Gerwel-stigting, NATi, Suidoosterfees en Toyota Stellenbosch Woordfees

Klik hier om kaartjies op Quicket te koop.


Op die hoek van Styx en River is Nora per abuis met die dood oorgeslaan
geskryf deur Henque Heymans

Nora, ’n kelnerin, bly op haar eie nadat haar man kort ná hulle troue oorlog toe is en nooit teruggekom het nie. Sy raak op ’n dag woedend vir die dood wat haar man gesteel het, maar dan daag die dood op om háár te kom haal. Nora ontdek die hiernamaals is glad nie so deftig nie, en sy is ook nie dood nie, maar niemand wil haar glo nie. Dan besluit sy om haar oorlede man met die hulp van ’n sjarmante gids te gaan soek en huis toe te bring…

Met Sandra Prinsloo, David Viviers
Regisseur Toni Morkel
Stelontwerp Chris Booyens
Vervaardig deur Leftfoot Theatre Productions en KKNK. Moontlik gemaak deur Suidoosterfees, Innibos, Momentum Beleggings Aardklop, Vrystaat Kunstefees, NATi

Klik hier om kaartjies op Quicket te koop.


Suurdeeg
geskryf deur Miché Colleen van Wyk

In die konserwatiewe omgewing van Namakwaland probeer twee amper-skoonsusters uitpluis wat hulle doel as vroue in die lewe is. Anna, wat reeds tien jaar met Ouboet Gert getroud is, raak verlief op haar swaer se meisie, Emma, wat vir die eerste keer sonder Klein-Johnietjie op die plaas Besondersmeid is. ’n Romantiese drama waarin die karakters voor eensaamheid en ’n begeerte na liefde en betekenisvolle verhoudings te staan kom.

Met René Cloete, Jodine Ockers
Vervaardiger Miché van Wyk
Regisseur en stelontwerp Sandra Temmingh
Verhoogbestuur en tegniese versorging Justin Sieberhagen
Moontlik gemaak deur die Jakes Gerwel-stigting, NATi, Suidoosterfees en Toyota Stellenbosch Woordfees

Klik hier om kaartjies op Quicket te koop.


Trou Koek / Tert
teks ontwikkel deur Kristin Pienaar en Margo Kotze

Koek en Tert staan op trou, albei in ’n spier­wit rok. Dit is skoonma’s, kombuis­tees, pampoenkoekies, blommerangskikkings en voorhuwelikse berading, maar nou is die lysies afgemerk en die lewenspad gekaart. Daar is twee trourokke en een bruidegom, maar net een bruid stap môre in die kerkpaadjie af. Trou Koek / Tert is ’n skerpsinnige verkenning van sosiale waardes oor liefdesverhoudings, die huwelik en verwagtinge.

Met Margo Kotze, Elmé Oosthuizen
Vervaardigers en teks Kristin Pienaar en Margo Kotze
Regisseur en tegniese versorging Kristin Pienaar

Klik hier om kaartjies op Quicket te koop.


Chronicles vannie Lavis
’n verwerking van Veronique Jephtas

Beleef ’n tale queen op ’n mission. Moenie ’n fout makie: Sy issie a fairy nie. Moet oekie dink sy is fair nie. Sy is vannie Lavis en blatantly so. Kô vat ’n trip down memory lane en vang ’n front row seat oppie voorstoep van Mavis se juiciest stories. Promiscuity, brutal honesty, sarcasm en pure lekker skinner. As jy vannie Lavis af is, is jy safe. Anywhere else, clutch your pearls and while you’re at it, soema hold your horses! Sien jou daar!

Met Veronique Jephtas
Gegrond op die skrywes van Mavis vannie Lavis
Regisseur Rafiek Mammon
Oorspronklik deel van Suidoosterfees 21.
Verdere ontwikkeling en speelvak ondersteun deur die Toyota Stellenbosch Woordfees

Klik hier om kaartjies op Quicket te koop.


Boekbekendstellings en -gesprekke

Boek: Een voet innie kabr
deur Gaireyah Fredericks

Dié boek kry dit reg om peripheral characters en vertellers oppie voorgrond te plaas. Die tailor-dokter met sy briefcase vol sample-lappe, maatband en pen. Die pyn vanne vrou wat haar pasgebore tweeling moet begrawe. Ennie stryd vannie pligsgetroue, prim en proper Mareldia. En dan is daar oek Ghoemeira wat tradisionele waardes mettie modern moet versoen. Hier hoor jy die klanke vannie gemeenskap, musky en soet soes ryke uit die Jannat.

Gesprek: ’n Soen In die donker: Twee kortverhaaldebute

Stephen King het by geleentheid gesê ’n kortverhaal is soos ’n soen in die donker van ’n vreemdeling. Beleef dié eiesoortige sensasie met twee debute wat wêrelde oopskryf in kortverhale: Gaireyah Fredericks se Een voet innie kabr is in Kaaps en Kaapse Moslem-Afrikaans geskryf en vang die Suid-Afrikaanse Moslem-ervaring vas. Stefaans Coetzee se Sel ses plaas die leser in die tronk, waar die lewe besonder ongenaakbaar kan wees. Die kortverhaalfynproewer Donovan Greeff lei die gesprek.

Klik hier om kaartjies op Quicket te koop.


Boek: Ek en jy bestaan nie
deur Danie Marais

Ek en jy bestaan nie is die langverwagte vierde bundel uit die pen van die bekroonde digter Danie Marais. Soos in sy vorige bundels is dit gedigte wat openhartige, intieme gesprekke met die leser aanknoop – hierdie keer oor die ongemakke van ras en klas. Dis ’n bundel oor die menslike middelklastoestand en die unbearable whiteness of being wat waag om te praat oor die dinge waaroor mense liefs stilbly in die woonbuurte van Stellenbosch waar ’n koue burgeroorlog stil in die boomryke strate woed.

Gesprek: Asem deur die oor

Gedigte is gemaak om gehoor te word. Drie digters bring vir luisteraars die gawe van hulle beste woorde in die beste volgorde – ’n soort offerande vir die oor. Danie Marais lees uit Ek en jy bestaan nie, Lynthia Julius blaas asem in die beeldryke Noord-Kaapse Afrikaans van Kinderlê, en die rubriekskrywer André le Roux ontbloot sy digterlike sy met ’n voorlesing uit Liefde en verset. Bibi Slippers speel gasvrou terwyl die digters met die ore toor.

Klik hier om kaartjies op Quicket te koop.


Boek: Kinderlê
deur Lynthia Julius

In Kinderlê kom verse oor die kwesbaarheid van kinders, swangerskapsverlies, genderkwessies, erotiek, en geestesgesondheid aan die bod. Die titel is die naam van ’n monument by Steinkopf in die Noord-Kaap ter herinnering aan ’n kinderuitwissing wat daar plaasgevind het – ’n historiese gegewe wat nie wyd bekend is nie. Julius tree dikwels in gesprek met haar literêre voorgangers en betrek die huidige sosiopolitiek. Sy verruim Afrikaans met die gebruik van Gariepafrikaans en Nama-woordeskat.

Gesprek: Asem deur die oor

Gedigte is gemaak om gehoor te word. Drie digters bring vir luisteraars die gawe van hulle beste woorde in die beste volgorde – ’n soort offerande vir die oor. Danie Marais lees uit Ek en jy bestaan nie, Lynthia Julius blaas asem in die beeldryke Noord-Kaapse Afrikaans van Kinderlê, en die rubriekskrywer André le Roux ontbloot sy digterlike sy met ’n voorlesing uit Liefde en verset. Bibi Slippers speel gasvrou terwyl die digters met die ore toor.

Klik hier om kaartjies op Quicket te koop.


Boek: Die man wattie kinnes vang
deur Nathan Trantaal

In 2021, is Damian de Jong biesag mette boek oo serial killers. Hy force homself ommie dae te onthou toe hy asse kind innie 90s oppie sandduine gespeel. Die man wattie media ‘The Railway Ripper’ noem, het begin coloured boys doodmaak en begrawe in vlak grafte innie bosse en sandduine rondomie Western Cape. Hy praat met ex-detective Michelle Wakefield ma soe meer sy die feite vi Damian ytlê, soe minner vestaan hy wat rêrag daityd gebeerit.

Gesprek: Beurswenners besin

Die Jan Rabie en Marjorie Wallace-skrywers­beurs het tot dusver aan agt skrywers die geleentheid gegee om onverstoord aan ’n boek te werk. Boekwurm Bibi Slippers, gesels met Nathan Trantraal, wie se grafiese roman Die man wattie kinnes vang vroeër vanjaar verskyn het, en Lynthia Julius, wat vanjaar se beurshouer is en pas aan haar eerste roman begin werk het, oor die verligting, geleenthede, uitdagings en druk wat met die toekenning van ‘n groot beurs gepaard gaan.

Klik hier om kaartjies op Quicket te koop.


Boek: Rooisand
deur Jeremy Vearey

Dirk Aruseb was sewentien jaar oud toe Abraham Morris hom uit die Pella-weeshuis kom haal het om by die Bondelswarts aan te sluit. Hy kon nie wag om saam met die legendariese kaptein Jakob Marengo, opvolger van Hendrik Witbooi en Jonker Afrikaner, die vervloekte Schutztruppe te verower nie. Maar by Schansvlakte diep in Namaland begin die eerste van Dirk se lewenslesse: wees nederig, wees geduldig, wees genadig. Vind jou eland, tem jou janfiskaal.

Gesprek: Crimson Sands. Rooisand

Jacques Pauw het Jeremy Vearey beskryf as “’n baasspeurder met ’n vlym­skerp pen”. Met Rooisand waag dié voor­malige speurhoof vir die eerste keer sy hand aan fiksie. Rooisand is ’n epiese oorlogsroman wat in Namaland afspeel en is die verhaal van Dirk Aruseb en die Bondelswarts. Ruth First het dié opstand en geweld­dadige onderdrukking die “Sharpeville van die 1920’s” genoem, en Vearey roep die verhaal oor sand, bossies en duine heen op. Ingrid Jones gesels met Jeremy en Kirby van der Merwe, wat Crimson Sands vertaal het.

Klik hier om kaartjies op Quicket te koop.

Klik hier vir die volledige program.

Leave a comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *