A place where stories unfold

PEN dit neer: deelnemers vir 2024 aangekondig

Biografieë van 2024 se deelnemers

Hannah Mileman

Hannah Mileman is ’n Noorweegse skrywer en illustreerder wat aan die Kingston Universiteit in Londen studeer het en tans in Oslo gebaseer is. Sy het haar debuut in 2020 gemaak as ’n skrywer van historiese fiksie met haar eerste boek in die Gjenklang-reeks en in 2021 as ’n skrywer van storieboeke vir kinders toe sy haar Vesle-reeks begin het. Die mees onlangse Vesle-storieboek is in 2024 genomineer vir die Noorweegse Ministerie van Kultuur se prenteboekprys. Behalwe vir hierdie boekprojekte, het sy ook gewerk as opvoedkundige skrywer van teksboeke, vir platforms vir aanlynonderrig en vir ensiklopedieë en het sy lesings aangebied oor skryf en letterkunde vir kinders en volwassenes. Sy het reeds 15 boeke gepubliseer en werk tans aan ’n roman vir jong volwassenes. Haar ideaal is om ’n fiksiewerk in Engels te publiseer om ’n wyer gehoor te kan bereik.

Lindiwe Nkutha

Lindiwe Nkutha beskryf haarself as ’n kulturele aktivis, skrywer, vervaardiger van dokumentêre films en ’n onwillige digter wat in Soweto gebore is en nou in Johannesburg woon. Haar stories is in verskeie joernale en bundels gepubliseer, insluitend 180 degrees: New fiction by South African women writers (2005), African Road: New Writing from Southern Africa (2006) wat deur J.M. Coetzee vir die PEN-toekenning gekies is en Recognition: An anthology of South African short stories (2017). Haar bundel kortverhale 69 Jerusalem Street (2021) was op die kortlys vir die Universiteit van Johannesburg se debuutboekprys in 2021 en vir die kortverhaalprys van die Nasionale Instituut vir die Geestes- en Sosiale wetenskappe (NIHSS) in 2022. 

Lindiwe se gedigte verskyn in die joernaal Botsotso, in Art for Humanity Chimurenga en in die elektroniese nuusbrief Pambazuka News. Haar dokumentêr Jo’burg Rising (2007) was ingesluit in die Encounters-filmfees in Johannesburg en is ook internasionaal vertoon. 

Lindiwe het die Pan Macmillan Chris van Wyk-beurs vir kreatiewe skryfwerk in 2018 ontvang en sy is gekies vir ’n genootskapsprogram van die Atlantic Fellows for Racial Equity in 2021. 

Willem Anker

Willem Anker is ’n bekroonde Afrikaanse skrywer en dramaturg. Hy is die skrywer van drie romans: Siegfried (2007), Buys (2014) en Skepsel (2020), en ses toneelstukke: Skroothonde (2004), Slaghuis (2006), Sakrament (2009), Skrapnel (2009), Samsa-masjien (2014) en Patmos (2024). Hy het vyf toneelstukke vir Afrikaanse teaterproduksies vertaal, insluitend werke van Sarah Kane en Samuel Beckett, en hy het in 2023 Han Kang se roman The Vegetarian wat die Internasionale Booker-prys gewen het vir ’n Afrikaanse verhoogproduksie verwerk. Sy roman Buys het die Hertzogprys vir Prosa in 2016 ontvang en Red Dog, die Engelse vertaling hiervan, was op die langlys vir die Internasionale Booker-prys in 2020. Hy is die bekleër van die leerstoel in Afrikaanse kreatiewe skryfkunde in die Departement Afrikaans en Nederlands aan die Universiteit Stellenbosch.

Kwassi Logos

Kwassi Logos van Togo, wat ook op die internet as Belizem bekend is, is ’n tolk en skrywer van blogs, rubrieke en ander skryfstukke. As ’n Afrika-pragmatis met jare se ondervinding in die mynwese is Kwassi baie bewus van die uitdagings wat die kontinent van Afrika verhoed om behoorlik van die grond af te kom en sy rol te speel in die globalisering van ons lewens op alle vlakke, veral waar letterkunde en die uitdruk van nuwe idees aangaan. Hy het in Februarie 2022 by PEN Togo aangesluit om sy bydrae te kan lewer tot die vereniging se visie om “skrywers van alle oortuigings bymekaar te bring wat die waardes aanhang van vrede, verdraagsaamheid en vryheid waarsonder dit nie moontlik is om te skep nie”.

Keith Oliver Lewis

Keith Oliver Lewis is ’n bekroonde digter en kortverhaalskrywer van Smartietown in die Paarl. Sy werk is reeds gepubliseer in, onder andere, Yesterdays and Imagining Realities, in FluidThe Freedom to be en die New Contrast Literary Magazine. Hy was op die langlys vir die Sol Plaatje-Europese Unie Poësietoekenning en is bekroon met die Short.Sharp.Stories-prys vir sy kortverhaal Blue Boy Lagoon. Lewis was ’n skryfgenoot van die Johannesburg-instituut vir Gevorderde Navorsing (2023) en het opgetree op die verhoog van die Poetry Africa-fees, was te sien op die Expresso Morning Show en het ook optredes by ander poësiefeeste gehad. Lewis se mees onlangse prestasie en hoogtepunt in sy loopbaan was om die New Contrast se Nasionale Poësieprys van 2023 te wen.

Anzil Kulsen

Anzil Kulsen is ’n wyd gepubliseerde skrywer van Upington in die Noord-Kaap. Onder haar korter werke tel haar dagstukkies vir Carpe Diem Media, talle artikels en rubrieke vir tydskrifte, aanlynjoernale en koerante asook meer as twintig kortverhale vir verskeie tydskrifte soos Kuier, Vrouekeur en Rooi Rose en ook uitgewers soos LAPA en MML. Haar langer skryfstukke sluit in: die gewilde Karatekas-reeks, Zita (2006), Sorrie maak nie gesond nie (2015), Skarlakenkinders (2019)met Nadine Blom as medeskrywer, Reënboogmelodie (2020) en Ragab (2023). Wanneer sy nie self skryf nie, tree sy op as projekbestuurder en fasiliteerder vir ATKV-slypskole in kreatiewe skryfkuns.

Leave a comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *