A place where stories unfold

Vryheid om te skryf na hartelus

Ek het al leuens vertel, leë beloftes gemaak of terug gegaan op my woord. Ek het ook al myself van geleenthede om te leer ontneem, of dit nou deur mislukking of sukses is, omdat ek te bang was om te waag. Ek streef nou na ‘n beter weergawe van myself. In hierdie proses van hernuwing het ek dieper waarde aan integriteit en dapperheid begin heg. Nou is ek ‘n Braveheart. Noem my sommer Melissa.

Niren Tolsi skryf in die Mail and Guardian in ‘n huldeblyk aan die ontslape Professor Jakes Gerwel, dat Jakes Gerwel “The epitome of integrity and courage” was. Ek is ‘n filosoof, ek glo nie in toeval nie. Vir hierdie rede, bo die vele ander, wil ek deel wees van die Nati Jong Sterre projek, my vereenselwig met Professor Jakes Gerwel se nalatenskap deur die Stigting en die Suidoosterfees. Wat ‘n voorreg om in ‘n spasie te skep, dink, trap waar hy bestaan het. As ‘n bruin vrou, wie net so oud soos die demokrasie van Suid-Afrika is, ‘n demokrasie wat hy help inlei het, besef ek die gewig van hierdie geleentheid.

Terwyl ek nou hier skryf sit ek in ons wendy huis, in my kamer wat ek saam met my jonger broer deel. My ma luister Heartbeat FM en die Apostel gesels vandag oor hoop. Toevallig deel ek deesdae haar sentimente. My pa kyk ewe hard ou Wrestlemania highlights op Youtube. Hoewel my familie, veral my pa, kranige storie vertellers en grapjasse is, is hulle nie skrywers nie. Ek is die enigste skrywer in my familie. So hulle verstaan nie juis my behoefte vir stilte en introspeksie nie. As jy hier te lank stil is moet daar sekerlik groot fout wees en speel my ma dadelik sielkundige. Nou verstaan, ek is baie lief vir hulle maar ek vind al meer dat hierdie nie die beste spasie is om stories te ontdek en die karakters se realiteit te verken nie. Dit is hoekom die spasie wat die Jakes Gerwel Stigting en Paulet Huis belowe vir my onskatbaar is. Ek het lanklaas soveel uitgesien na iets. Die vryheid om te skryf na hartelus, omring deur ‘n klein gemeenskap gelyksoortige individue en ‘n mentor met ‘n hart vir jongmense, in ‘n 197 jaar oue huis wat stories en geheime van sy eie dra? Ek is daar. Ek is seker dat dié ervaring my intellektueel, geestelik, emosioneel en professioneel gaan verryk. Die proses in die geheel gaan my bemagtig om vir myself ‘n naam te maak buite die grense van Oudtshoorn. Ek sien uit om myself na hierdie proses weer te ontmoet.

Wanneer ek daar is wil ek graag my teks afhandel sodat ons met die ontwikkelings fase kan begin. Ek brand met soveel idees. Hierdie storie is vir my belangrik omdat dit in lyn is met my etos, om ‘n eerlike stem vir benadeelde gemeenskappe te wees. Ek het alreeds notas, vrae en ‘n to-do lys gereed. Ek sien uit om die ander dramaturge te leer ken, die huis en dorpie te verken en myself in die natuur en kultuur te onderdompel. Ek hoop hulle laat my toe om eers na die drie weke om is op te kom vir asem.

+ posts

Tiffany Saterdaght is ’n digter, dramaturg, regisseur en radio-omroeper. Sy beywer haar om ’n eerlike stem aan benadeelde gemeenskappe te gee, en is betrokke by organisasies soos Awehness Creative Community en Klein Karoo Connect. By die KKNK se Karoo kaarte-projek, wat by die 2022-Kannatoekennings met ’n Herrie vir baanbrekende werk beloon is, was Tiffany betrokke as navorser, fasiliteerder, dramaturg en regisseur. Karoo kaarte se toneelstuk, Op hierdie dag, het sewe Kanna-benoemings ontvang.

Leave a comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *