Die Fiëstas-paneel het in 2024 sewe kunstefeeste – KKNK, Suidoosterfees, Innibos, Vrystaat Kunstefees, Klein-Karoo Klassique, Momentum Beleggings Aardklop en Toyota Stellenbosch Woordfees – bygewoon om al die debuutproduksies te sien wat op die planke gebring is. Ná ’n breedvoerige stemproses wat deur ouditeure nagegaan is, is die benoemdes in die veertien kategorieë bepaal.
Miché van Wyk, voormalige deelnemer aan die NATi Jong Sterre-residensie en een van vanjaar se Bosberg-boekskryf-deelnemers, is genomineer as Beste Opkomende Kunstenaar vir haar toneelstuk Suurdeeg wat tydens die Suidoosterfees en Toyota Stellenbosch Woordfees opgevoer is.
Suurdeeg
geskryf deur Miché Colleen van Wyk
In die konserwatiewe omgewing van Namakwaland probeer twee amper-skoonsusters uitpluis wat hulle doel as vroue in die lewe is. Anna, wat reeds tien jaar met Ouboet Gert getroud is, raak verlief op haar swaer se meisie, Emma, wat vir die eerste keer sonder Klein-Johnietjie op die plaas Besondersmeid is. ’n Romantiese drama waarin die karakters voor eensaamheid en ’n begeerte na liefde en betekenisvolle verhoudings te staan kom.

Met René Cloete, Jodine Ockers
Vervaardiger Miché van Wyk
Regisseur en stelontwerp Sandra Temmingh
Verhoogbestuur en tegniese versorging Justin Sieberhagen
Moontlik gemaak deur die Jakes Gerwel Stigting, NATi, Suidoosterfees en Toyota Stellenbosch Woordfees
Vanjaar se Fiëstas-toekenningsgeleentheid vind op 27 Februarie by die Kirstenbosch Nasionale Botaniese Tuin in Kaapstad plaas. Die geleentheid is slegs vir benoemdes en ander rolspelers en word nie regstreeks uitgesaai nie. Daar sal wel insetsels vir verskeie kykNET-programme verfilm word.
Baie geluk en sterkte, Miché! Ons is opgewonde om te sien wat jy volgende gaan doen.
Klik hier om meer te lees oor Miché van Wyk en vanjaar se Bosberg-boekskryf-program.
Aansoeke vir vanjaar se NATi Jong Sterre-residensie is nog oop tot 30 Mei 2025. Suksesvolle kandidate sal van 8 tot 28 September 2025 tyd by Paulet Huis in die Oos-Kaap deurbring. Klik hier om aansoek te doen.