A place where stories unfold

Finaliste vir die ATKV-Woordveertjies 2024: Baie geluk aan Willem Anker en Henque Heymans

Die ATKV-Woordveertjies bekroon jaarliks uitsonderlike prestasies rondom die Afrikaanse woord. Hulle vereer bydraes oor ’n breë spektrum – van woordeboeke tot prosawerke – met die hoop dat hierdie toekennings ’n liefde en passie vir lees by mense sal kweek. Dit dien ook as bemoediging vir skrywers om werk te kan skep en mense aan die lees te kry.

Twee van ons skrywers is vanjaar finaliste: Willem Anker, wat vanjaar ’n mentee by die PEN dit neer-residensie was, en voormalige NATi Jong Sterre-mentee Henque Heymans. Beide Willem Anker en Henque Heymans is finaliste vir die Prys vir Dramateks.


Patmos deur Willem Anker

’n Klein dorpie met ’n sterrewag op die heuwel duskant ’n sluimerende vulkaan word getref deur ’n meteoriet. ’n Klein krater tussen die spekbome in die tuin. Die klippie sing wanneer jy daarop hamer. ’n Astronoom doen navorsing oor gravitasiekolke. Haar jong seun het ophou praat. ’n Komponis wat ’n klankbaan vir ’n wetenskapsfiksie-fliek maak, hoor van die singende klip en kom loseer by hulle om die klanke van die landskap op te neem. Drie mense drywend in die kosmos probeer mekaar vind. Hoe maak jy musiek vir ’n ruimteskip? Wat gebeur wanneer jy oor daardie finale drempel van die gebeurtenishorison tree en in ’n gravitasiekolk ingly?


Op die hoek van Styx en River is Nora per abuis met die dood oorgeslaan deur Henque Heymans

Die hiernamaals is toe baie minder deftig as wat ons gedink het – verbeel jouself ’n staatsdepartement uit die 1970’s. Dis waar Nora haarself nou bevind. Die enigste probleem is, sy’s nooit dood nie en niemand wil haar glo nie. Sy besluit tog om hierdie kans aan te gryp om haar oorlede man in die anderkant van die dood te gaan soek en hom – met die hulp van ’n sjarmante gids – terug te bring huis toe.


Die wenners van vanjaar se ATKV-Woordveertjies sal vanaf 17 tot 20 September 2024 op die ATKV se Facebook-blad bekendgemaak word.

Sterkte aan beide van ons skrywers!

Klik hier om meer te lees oor die finaliste vir die ATKV-Woordveertjies 2024.

Leave a comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *