A place where stories unfold

Teksmark 2024: Baie geluk aan Sibuyiselo Dywili en Rachelle Greeff

Teksmark vier sy negende jaar!

Teksmark is in 2016 vir die eerste keer aangebied met die fokus om aan skrywers ’n geleentheid te bied om hul teksidees voor te lê, met die oog op moontlike ondersteuning om dit verder te ontwikkel en uiteindelik as volwaardige produksie op die planke te bring.

Oor die afgelope nege jaar is 156 teksidees in verskeie amptelike landstale by Teksmark aangebied. In totaal is 43 tekste tot volskaalse produksies ontwikkel. Ontwikkelde produksies en tekste spog ook oor die jare met verskeie gesogte pryse.

Hugo Theart (Uitvoerende hoof en artistieke direkteur: KKNK)

Van besondere belang vir die Jakes Gerwel Stigting is die toneelstukke van voormalige mentee van die Brussel tot Karoo-residensie, Sibuyiselo Dywili, en Kommadagga-mentor, Rachelle Greeff, wat vanjaar by Teksmark aanbied sal word.


The Salt Lesson deur Sibuyiselo Dywili

The Salt Lesson vertel die storie van ’n jong swart man se reis met ’n wit pa wat aan dementia ly en uiteindelik sy seun vergeet. Dit verken die politiek van ras in ’n veelrassige familie, herstel en vergoeding van grond, vaderskap, geestesongesteldheid en familietwis. Ivan is reeds ’n paar jaar gelede met hierdie geestesiekte gediagnoseer en as gevolg daarvan het hy ’n ander weergawe van gebeure geskep waarvan slegs hy bewus is. Dink aan ’n huis waarin ’n swart man saam met sy wit tante, sy vervreemde pa se suster, woon. Die siek pa keer terug na die huis op soek na hulp, ontvang hulp, en begin om dié einste bron van hulp te bevraagteken en te verag weens die onvermoë daarvan om van enige waarde te wees. Waarom word dit as ’n aggressiewe fontein beskou wanneer dit vuur na die wit man begin spoeg? En wat maak dit ’n aggressiewe fontein?

Sibuyiselo Dywili is ’n opkomende ster in die Suid-Afrikaanse teaterlandskap. Hy is in Kaapstad gebaseer en werk nou saam met regisseur Siphenathi Siqwayi. Hulle vennootskap vorm die fondasie van Double Impact, ’n teaterproduksiemaatskappy waarvan hulle medestigters is. Sy reis het begin met sy debuutwerk, Ganga Nyoko! Inzima Nyoko!. Die stuk was onmiddellik ’n sukses en het in 2020 Junkets Publisher se teksskryfkompetisie gewen en befondsing vir die publisering daarvan ontvang. In 2021 word hy deur Lara Foot genooi om aan die Baxter-teater se Masambe Writing Lab deel te neem, waar hy sy tweede Xhosa-toneelstuk, NGXI!, skryf. Hierdie werk word gekies vir deelname aan die KKNK se Teksmark in 2022. The Salt Lesson is sy eerste Engelse toneelstuk.


Die repetisie deur Rachelle Greeff

Ná hy die moorddossier van sy dogter, Rebekka, gelees het, weet Ben van der Hoven hy kan haar hofsaak godsonmoontlik bywoon. Met net enkele meters tussen die twee wat daarvan beskuldig word dat hulle haar in die loop van ’n nag ontvoer, verkrag en vermoor het, sal hy kop verloor. Hy sal braak, tjank, dalk skreeu en nooit ophou nie. Intussen druk die staat hom om immers ter strafverswaring – hoogstens 30 minute – in die hooggeregshof te getuig. Ter wille van Rebekka móét en wíl hy. Ook namens sy vrou, Laura, wat nege maande ná Rebekka se dood gaan swem en nie weer teruggekom het nie. En wie anders as hy sal in die plek van sy outistiese seun, Tom, kan sê hulle twee verkluim in die ruïne van ’n eertydse gesin met ’n vurige hart? Ben moet repeteer, sy medespelers oproep en in die oë kyk. Dis al hoe hy, dalk, ’n laaste gebroke loflied vir Rebekka kan sing.

Rachelle Greeff het in 1989 met die kortverhaalbundel Die rugkant van die bruid gedebuteer. Sedertdien werk sy in verskeie genres; soms bekroon, soms nie. Die swak beligte soeke na die stem van haar karakters (toneelstukke én fiksie) is altyd stadig. Die naam van haar muse is (ongetwyfeld) Twyfel. Sy fasiliteer en mentor by projekte vir nuwelingskrywers. Die geesdrif van haar studente herinner haar waarom sy bly heul met die tweesnydende swaard van storievertel. Haar vorige toneelstukke was Die naaimasjien en Rondomskrik, onder leiding van die regisseur Hennie van Greunen.


Sluit aan by rolspelers en ander betrokkenes by die teaterbedryf vir Teksmark 2024, waar dramaturge hul idees as toneelvoorlesings aanbied en bespreek.

  • Datums: 4 en 5 September 2024
  • Tyd: Vanaf 10:00
  • Venue: Concert Hall, Baxter-teatersentrum, Rondebosch, Kaapstad
  • RSVP: 2 September 2024

Vir meer inligting of navrae, kontak gerus vir J.C. Aucamp by jc@kunste.org.za.

Klik hier om die volledige program af te laai.

Klik hier om te RSVP.

Leave a comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *