Dianne du Toit Albertze, voormalige deelnemer aan die NATi Jong Sterre-residensie in 2019, is die wenner van vanjaar se Nagtegaal-teksprys. Die Nagtegaal-teksprys is die grootste teksskryfkompetisie in Suid-Afrika en het in 2024 herleef in samewerking met die Toyota Stellenbosch Woordfees. Vir haar wenteks, Huis van sand, ontvang Du Toit Albertze naas prysgeld van R100 000 ook mentorskap en ondersteuning met die finale afronding van die teks, asook ’n speelvak by vanjaar se Toyota Stellenbosch Woordfees.
Die wentoneelstuk is gekies op grond van uitmuntende gebruik van teatertegnieke, insluitend minimale stelwerk wat die verbeelding aanwakker, en fisieke spel wat die emosionele landskap verryk.
Nico Scheepers (dramaturg en paneellid)
Huis van sand deur Dianne du Toit Albertze
Huis van sand verken die verhouding tussen ma en dogter, Sandy en Babs, in ’n karavaanpark in die wêreld van Du Toit Albertze se komvandaan – Springbok. Babs en Sandy leef op die leftovers van hul verlede. Die vier mure van hul karavaan ken klomp geheime en al is dit ’n humble huisie, is dit ma en dogter se pondokpaleis, die girls se sandkasteel. Sandy het haar swerwersbestaan langs die N7 koebaai gegroet om ’n lewe te begin in Rodney se karavaan net buite Springbok. Die bottel eers gebêre om Babs groot te maak. En saam met dit kom groeipyne en erfsondes. As volwasse vrou probeer Babs haar bes om die bloed van haar herinneringe skoon te was en aan te beweeg as onderwyseres by die plaaslike laerskool. Tog kom haal die stofstorms haar keer op keer in. Die kouevuur van Sandy en Babs se onthou vat die gehoor op ’n verbeeldingsvlug, ’n treinrit tot diep binne waar die grense begin grys word.
Verdere besonderhede oor Huis van sand se volledige rolverdeling, regisseur en vertonings by die Toyota Stellenbosch Woordfees, sal in die feesprogram in Junie bekend gemaak word. Die 25ste Woordfees vind van 11 tot 19 Oktober in Stellenbosch plaas
Baie geluk Dianne, ons sien uit om Huis van sand tydens vanjaar se Woordfees te gaan kyk!
Klik hier om meer oor Dianne du Toit Albertze en haar nuwe toneelstuk te lees.
Die sluitingsdatum vir hierdie jaar se NATi Jong Sterre residensie sluit op 30 Mei 2025.
Klik hier om aansoek te doen.