Ons is verheug dat drie van ons skrywers, Danie Marais (Brussel tot Karoo 2023), Ryan Pedro (PEN dit Neer 2019) en Tiaan La Grange, ook Tiaan Booyens (Kommadagga 2024), die 129ste jaargang van die Ons Klyntji zine vanjaar gehaal het.
Marais haal die zine met sy gedig, Ek voel misverstaan deur ChatGPT, wat handel oor identiteitskepping as ’n skrywer in ’n wêreld waar kunsmatige intelligensie weergawes van jou skryfwerk verkeerdelik aanhaal of selfs opmaak.
Ryan Pedro verskyn met drie gedigte, JOJO, Allow me to reintroduce myself en Ask me about my Keffiyeh, drie kort, maar kragtige gedigte oor menswees, medemens-wees en uitkyk vir jou mense. Elkeen ’n moet-lees.
Tiaan La Grange se huldeblyk aan mede-skrywer, Joha van Dyk, Seeglas, haal ook die zine. Van Dyk is die skrywer van die Branderjaer-sage uitgegee deur Human & Rousseau en het laas jaar saam met La Grange in die Ons Klyntji verskyn. Van Dyk is vroeër die jaar op ouderdom van sewe-en-twintig oorlede.
Dié drie Paulet Huis-skrywers is deel van ’n groep van oor ’n honderd bydraers wat in die zine gepubliseer is. Ons Klyntji word jaarliks deur kykNET en Klyntji uitgebring, en tydens die Tuin van Digters-fees by die Breytenbach Sentrum op Wellington bekendgestel.
Baie geluk Danie, Ryan en Tiaan!


