A place where stories unfold

Resensie: Blou Moord deur Francois Bloemhof

Dis Maart 1981 en Ludo Labuschagne is terug met sy derde #Wiedoenit. Net toe hy wil bekommerd raak dat hy dalk nie hierdie maand ‘n raaisel sou kry om te ontrafel nie, val hy met sy agterwêreld in die spreekwoordelike botter. Sy ma se vriend met voordele, oom Dippie, bewimpel sake dat al drie uitgenooi word om ‘n betaalde vakansie op ‘n privaat-eiland saam met die lede van ‘n groepie operaliefhebbers deur te bring. Ludo moes alreeds agterdogtig geword het toe hy besef het daar is dertien gaste, maar as hy enigsins nog gevrees het dat dit ‘n eentonige vakansie sou wees, blyk die teendeel spoedig: ‘n lid van die groepie word in haar huis vermoor; hulle gasvrou se seun verdwyn kort voor hulle vertrek; die eiland is afgesonder, minstens ‘n uur per luukse jag vanaf Durban, en dan sterf iemand boonop grusaam. Afgesny van die buitewêreld moet Ludo met Agatha Christie flair die skurk(e) ontmasker.

Ludo is in 2021 aan Afrikaanse lesers bekendgestel in ‘Die duiwel maak my hart so seer’ (Lapa, 2021) wat in Januarie 1981 afspeel. In 2022 was hy terug met ‘n trompetgeskal in ‘Kry vir jou’ (Lapa, 2022) wat in Februarie 1981 afspeel en nou maak hy weer sy verskyning met ‘n onmiskenbare tromgeroffel. Soos die geval was in die eerste twee romans, is die roman grotendeels in die eerste persoon narratief geskryf. Die leser het dus nie net insae in Ludo se gedagtes nie – wat hom al amper so familiêr soos ‘n lank verlore familielid laat voel – maar dit laat die leser ook toe om 1981 opnuut deur sy 24-jarige oë te beleef.

Die skrywer het ongetwyfeld deeglike navorsing en moeite gedoen om die gekose milieu oortuigend uit te beeld; lesers sal met nostalgie die tyd van Ronald Reagan as Amerikaanse president, brandstof wat 60 sent per liter en ‘n Huisgenoot 48 sent elk kos, die verlowing tussen Prins Charles en Diana Spencer, die musiek van Eddie Rabbit, Maywood en Jo Dolan, en gesogte bootvaarte op die luukse Achille Lauro herleef. Elke week van Maart 1981 word chronologies aangebied en word telkens geopen deur foto’s wat die tydperk kenmerk – soos die Spur se spyskaart en die Rubik-kubus – uitbeeld. Die foto’s is as legkaartstukkies gedruk, ‘n herinnering aan die leser dat daar ‘n raaisel is om op te los; ‘n legkaart om te voltooi.

Wat Ludo aan werkywer ontbreek, maak hy meer as op voor met vlymskerp observasievermoëns. Sy beskrywings is ligjare van diplomasie verwyder, maar gedetailleerd en amusant. Een karakter se nek ‘…lyk te lank en elegant om veel gewig te hanteer…’ (44); ‘n ander kan ‘…op die skaal van aantreklikheid op ‘n goeie dag net…hoop vir ‘n vier.’ (45); ‘n akteur se stem is ‘…ontwikkel om tot by die agterste gestoeltes van ‘n ouditorium te dra – en daarby verby en uit by die deur.’ (49); ‘n vroulike karakter het ‘…voorryskouers en daarmee saam die stem van ‘n kindertuin-sopraan.’ (54); ‘n ander se gesig lyk ‘Asof al sy gelaatstrekke weet waar hulle wil wees, maar sy ken in ‘n vorige vertrek gelos het.’ (78); bestuurders wat die verkeer ophou word as ‘padproppe’ beskryf (65),;‘n vervelige karakter ‘…sou meer teenwoordigheid gehad het as sy hemp net nie so vaal soos sy hare was nie.’ (88) ‘n karakter wat aardig sing klink soos ‘…’n ambulans wat om ‘n draai beheer verloor.’ (143), en ‘n louwarm stort word beskryf as ‘Asof drie ou omies op jou staan en pie.’ (145)

Daar word by geleentheid effektiewe variasie aan die ritme van die eerste persoon narratief verleen deur fokaliseerders, anders as Ludo, aan te wend. Die derde persoon narratief word verskeie kere gebruik om karakters se perspektiewe aan die leser te openbaar. ‘n Moord wat die vakansie voorafgaan se spanning word juis geskep deur in daardie hoofstuk (5) van die derde persoon narratief gebruik te maak; die karakter se tasbare vrees en ‘n gevoel van dreigende onheil word sodoende uiters effektief aan die leser oorgedra. Daarteenoor word die tweede persoon narratief vernuftig in hoofstuk 21 aangewend waar ‘n ongeïdentifiseerde karakter, vermoedelik ‘n moordenaar, in gesprek met die leser tree.

Die roman volg die uitleg van die klassieke ‘closed room mysteries’ en daag die leser uit om die rol van leunstoelspeurder te vertolk. Die leidrade is daar, subtiel, ja – maar deurentyd teenwoordig. Die ontknopingstoneel slaag daarin om spanning en humor perfek te vermeng; die leser kou naels: al giggelend.

Ludo as anti-held wat ly aan hoogtevrees en paniekaanvalle, seesiek word en bleek en maer van voorkoms is, ontlok toenemende vertedering by die leser. Weens sy vermaaklikheidswaarde as hoofkarakter sal dit goeie nuus wees as hy nie daarin slaag om werk te kry of homself te verongeluk voor die einde van 1981 nie; nog ‘n paar van sy avonture sal hartlik verwelkom word.

#Uitdieperdsebek

LAPA Uitgewers

Leave a comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *