Reginald Julius Hufkie, ook bekend as Reggie Peace, wie aan die Bosberg Boekskryf-program in 2023 deelgeneem het, praat met ons oor die skryfproses van sy nuutste boek: Vredemaker.
In die jaar 2022 het ek al geskaaf aan ’n manuskrip vir ’n boek, maar ek was ’n novice wat niks geweet het van struktuur nie. Ek het geweet ek kan skryf en dat ek my storie wil vertel, maar mens moet tenminste die basics van boekskryf verstaan.
Ek was in kontak met skrywers soos Ivor Swartz en Jaco Strydom wat my aangemoedig het om te skryf, om te klop aan publishers se deure. 2022 kry ek op een of ander manier my baie kort manuskrip by Lux Verbi uit, maar dit was heeltemal te kort en dit het geen struktuur gehad nie.
Tog, later dieselfde jaar kry ek ’n oproep. Ek word aangemoedig om aansoek te doen vir die Bosberg Boekskryf-program wat aangebied word deur die Jakes Gerwel Stigting. Hulle kies my toe, en dit was die begin van ’n baie diep, cleansing proses.
Ons was vier keer (vir ’n langnaweek) KwaNojoli toe in 2023 waar ek onder die mentorskap van die amazing Suzette Myburgh gewerk het. Ons het letterlik begin by die begin. Ek moes weer van bladsy een af skryf, maar hierdie keer was ek aangemoedig om dieper te krap, om my alles op papier neer te lê. Om ’n kort storie lank te maak… dit was vir my soos terapie. Die heen en weer tussen my verlede en die hede het my gebreek, tog gemaak.
Suzette was so sensitief. Ons het baie fyn deur alles gewerk. Ons het gesprekke gehad, en sy het my vrae met opregtheid geantwoord. Ek sal haar verewig dankbaar wees.
En hoe kan ek vergeet van die mense wat saam met my op die program was. Topklas mense wie nog die wêreld gaan impact. Nadia, Bonisani en Faeed, dit was ‘n eer om julle te leer ken en tyd met julle te kon spandeer.
Lees meer oor die deelnemers van die Bosberg Boeksryf-program van 2023 hier.
Theo, Gilbert, Tannie Siena, Nash, Angela en almal wie ek daar ontmoet het, het ’n rol in die skryfproses gespeel.
Toe die program tot ’n einde kom het ons aanhou skaaf aan die manuskrip totdat ons die thumbs up by Lux Verbi gekry het. Tannie Estelle du Plessis het netso groot rol gespeel.
Dis ’n proses wat ek nooit sal vergeet nie, maar ek kan eerlikwaar sê dat dit nie ’n maklike een is nie. Maar skryf is mos nie maklik nie, of hoe?
Lees meer oor Reggie hieronder:
Die Bosberg-boekskryfprogram, waarvan die naam verwys na die pragtige berg reg langs Paulet Huis, word aangebied in vennootskap met verskeie vooraanstaande Suid-Afrikaanse uitgewers. Ons bied ondersteuning aan opkomende skrywers van romans of nie-fiksieboeke (byvoorbeeld memoirs).
Angela Briggs en Suzette Myburgh is bekwame en ervare boekeredakteurs wat die pad stap met die opkomende skrywers vanaf manuskripontwikkeling tot moontlike publikasie.
Die skrywers en mentors werk gedurende kwartaallikse werksessies saam in Paulet Huis aan die onderskeie manuskripte. Die skrywers werk dan op eie stoom tussen werkswinkels en inkorporeer die mentors se terugvoer. Na afloop van die jaarprogram help ons die skrywers om hulle manuskripte voor te lê aan die onderskeie uitgewers.
Alhoewel daar geen sluitingsdatum is vir aansoeke nie, word die finale keuse teen November van die voorafgaande jaar gemaak.
Klik hier vir inligting oor 2025 se deelnemers. Doen aansoek vir volgende jaar se program hier.