Anschen Conradie skryf oor Stories in die wind

#StoriesindieWind – Deidrė Jantjies

#Tafelberg

Die destydse ‘Kinders van die wêreld’-reeks het my as kind reeds gefassineerd gelaat deur kinders van reg oor die wêreld se kulture; legendes; sprokies; fabels en kontreiverhale. Deur die jare was ek bevoorreg genoeg om spesifieke publikasies oor kinderverhale uit Afrika, Duitsland, Ysland, Denemarke, Engeland, Skotland, Wallis, Ierland en Rusland te kon lees. Hierdie bundel is egter my heel eerste kennismaking met eksklusiewe Khoena-verhale, spesifiek opgedra aan ‘…die bruin en swart Afrikaanse kind.’ En die allermooiste wens word daarby ingesluit: ‘Jy is die lig waarna hierdie wêreld soek. Mag die stories in hierdie boek elke leser se siel roer en hulle outentieke self wakker maak.’

Die ruimte waarin hierdie tien verhale afspeel, is almal aan die Nama-kultuur bekend en sluit in die Richtersveld; die Karoo (waar jy op ‘n warm dag ‘…die klank van die hitte in die vlakte hoor speel.’ – 13); die Kalahari; die oewer van die groot Gariep, en die Outeniekwa. Moeder Maan is deurentyd die bron van lewe en antwoorde en heelwat lesse word uit die natuur geleer. Daar is die verhaal van die geseënde kind genaamd ‘Reënblom’ wat die rykdom van water illustreer; die tradisionele skilpadresies wat deur middel van intelligensie gewen word; die oorsprong van die beskrywende term ‘haaslip’ hoekom ‘n slinkse persoon as ‘n jakkals beskryf word; die tradisionele wysheid van die //Hui!Gaeb (Kaggen – die bidsprinkaan); die sterre as onuitputbure bron van stories; ‘n jong meisie wat haar hele volk red en die wysheid van ‘n sterwende slang: ‘Kies ‘n maat wat jou ‘n beter siel sal maak.’ (74)

Volkleur illustrasies deur Dav Andrew; ‘n woordelys en ‘n uiteensetting van die vier klapklanke in Khoekhoegowab (75) is ook ingesluit. Dis ‘n lieflike bundel met ‘n tweeledige doel: om kultuur en herkomstrots by diegene aan wie die publikasie opgedra is, te bevestig en om alle kinders se respek vir en belangstelling aangaande ander kulture te prikkel en te ontwikkel.

#Uitdieperdsebek

Leave a comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *