“Ons Dorp” – gedigkompetisie 2023 se wenners bekend, gepubliseer
Die derde agtereenvolgende gedigkompetisie was weer ’n sukses met inskrywings van die hele land se dorpe en skole, asook van regoor die wêreld. Wenners se gedigte is gepubliseer in ’n spesiale uitgawe van Heritage Travel Magazine – Verse, wat dieselfde in Engels en Afrikaans gespel word.
Wat hierdie uitgawe so spesiaal maak, is die blootstelling wat die digters ontvang deur saam met bekende kunstenaars en liriekskrywers gepubliseer te word.
Die gedigkompetisie het hierdie jaar twee temas gehad, naamlik “My dorp” en “My skool”. Onder die wengedigte is vorige inskrywings van digters soos Kenan Davids (21), wat hierdie jaar ’n Jeugkoker gewen het vir sy bydrae tot die bevordering van Afrikaans, Susan Terblanche (vorige inskrywing) en nuwe inskrywings – Kiara van Neel (15), Maria Mortimer (17), Benita Cyster, Ghameeda Henry en Florence Phillips.
Churchil Naudé, Die Kaalkop Waarheid en Reggie Peace (Reginald Hufkie) se lirieke is saam met die gedigte gepubliseer.
Hierdie uitgawe bied blootstelling, bevordering en bemagtiging vir die Afrikaanse taal. Al die lirieke is in Afrikaans. Taal, musiek, kuns, sport en stories bring mense bymekaar. Hierdie poësiekompetisie het verwagtinge oortref en bevorder ontasbare kulturele erfenis en toerisme van regoor die wêreld. Heri-Trav het juis die platform vir die gedigkompetisie en die tydskrif gestig om hoop lewendig te hou en mense se stemme te laat hoor deur hul talente en gawes aan die wêreld bekend te stel, hul erfenis met ander te deel en om mense erfenis-ambassadeurs te maak.
’n Kursus vir die skryf van gedigte is ook in die spesiale uitgawe, Verse. Mense wat hul digkunsvaardighede wil slyp, sal baat by hierdie kort gedigkursus.
Verse is ook ’n ode aan die 50ste herdenking van Hip-Hop.
Heritage Travel Magazine: Verse is beskikbaar as e-boek teen R150 en word uitgegee deur Heri-Trav.
Kontak 0794311494 om jou kopie te kry.
Groete
Jamile & Stef De Koker
Heritage Travel Magazine