Mikyall Harris is vanjaar saam met vier ander belowende jong dramaturge gekies vir deelname aan die NATi Jong Sterre-projek 2024. Onder leiding van Lee-Ann van Rooi en Rafiek Mammon het hulle tydens die residensie aan hul tekste gewerk wat in 2025 as professionele teaterproduksies by die Suidoosterfees sal debuteer.
In Mei het Mikyall Harris aansoek gedoen vir Artscape se New Voices-program waarvoor hy aanvaar is. Artscape se New Voices-program fokus op die opvoering van nuwe werk deur gevestigde en debuutskrywers in teater en die uitvoerende kunste. Hulle missie is om “nuwe stemme” ten toon te stel wat iets oorspronkliks, innoverend en vars tot die teaterlandskap toevoeg. As deel van die program is Mikyall Harris se toneelstuk, Vannie wal, af op 18 Oktober 2024 by die Artscape aan ’n gehoor voorgelees.
Hier onder volg ’n onderhoud tussen Izak de Vries (LitNet) en Mikyall Harris oor sy ervaring tydens die NATi Jong Sterre-program, die skryf van sy toneel Vannie wal, af en die voorlesing daarvan tydens Artscape se New Voices-program:
Mikyall, Vannie wal, af gaan oor twee mense wat mekaar wil liefhê, maar dan in die samelewing se vooroordele beland. Wat wil jy laat uitglip?
Wat ek wil laat uitglip, is dat hierdie storie my gedwing het om die mees kwesbare dele van myself te besoek – my eie romantiese trauma wat ek in al my verhoudings ervaar het. Maar veral het dit my uitgedaag om te ontleed wat liefde regtig is, hoe ons liefhet en wat ons bereid is om te doen wanneer ons iemand liefhet. Die skepping van Jethro en Adam was moeilik omdat baie van my eie verhaal in hulle gesit is; hul ervarings is my ervarings.
Hierdie storie het as ’n gedig begin ná ’n baie slegte break-up met een van my eerste ernstige verhoudings. Ek het geweet dat ek iets meer van daardie gedig wou maak. Dit is vir my so belangrik omdat homoseksualiteit selde op die skerm of verhoog uitgebeeld word en daarom het ek dit my missie gemaak om my waarheid te skryf. Liefde is iets pragtig wanneer dit reg gedoen word, maar dit het ook die vermoë om te vernietig as dit verkeerd gedoen word. Dit is wat ek met hierdie toneelstuk wil oordra, en as ’n gay, bruin man kon ek vanuit my eie verwysingsraamwerk en begrip van die wêreld skryf. Hierdie toneelstuk gaan nie oor gay wees nie, dit gaan oor liefde.
Lees verder hier: