Toe ek by die Cape to KwaNojoli Kreatiewe Skryfwerkswinkel instap, het ek nie heeltemal geweet wat om te verwag nie. Ek het gekom met ’n notaboek, ’n kop vol stories en daai ligte onsekerheid wat ’n mens saambring as jy van ver af kom en wonder of jou stem regtig hier gaan pas. Teen die einde van die drie dae het ek besef ek hoef nie my woorde reg te trek of glad te vryf om in te pas nie – ek mag skryf soos ek is.
Die eerste dag het stadig begin, met verwelkomings en gesprekke wat my laat voel het ek is welkom nog voor ek iets gesê het. Ons is aangemoedig om fyn te kyk en regtig te sien – om te skryf met ’n opmerkende oog, maar ook met sagtheid vir onsself. Dit het my laat dink aan hoe ’n mens in Namakwaland leer om tekens te lees: wolke, wind en stilte. Ek het besef skryf werk maar net so.
Soos die dae aangegaan het, het die werkswinkel nie net oor tegniek gegaan nie, maar oor moed. Moed om jou werk oop te maak vir ander mense se oë. Moed om terugvoer te ontvang sonder om toe te klap. En ja, soms ook die moed om te lag vir jouself wanneer jy besef daai ‘briljante’ sin werk toe nou glad nie. Die skryfsessies en taalverdelings het my laat voel ek behoort, want ek kon praat en skryf soos ek grootgeword het – sonder verskoning.
Wat vir my besonders was, was die eerlikheid waarmee daar oor die skryf-lewe gepraat is. Nie net die mooi drome nie, maar ook die harde werk, die wagtyd en die twyfel. Dit het my gerusgestel om te hoor dat selfs mense wat al ver gevorder is, nog soms wonder of hulle goed genoeg is. Dit het my laat dink: as húlle nog aanhou skryf, kan ek ook.
Teen die laaste dag, toe sertifikate uitgedeel is, het ek besef ek vat meer as net papier saam huis toe. Ek vat bevestiging. Bevestiging dat my stories, al kom hulle uit stofpaaie en stil plekke, ook waarde het. Ek het weggegaan met nuwe kennis, nuwe moed en ’n bietjie meer vertroue in my eie stem. En ook met die wete dat skryf nie altyd ernstig hoef te wees nie; soms mag ’n mens lag, sukkel, skrap en weer begin.
Die Cape to KwaNojoli Werkswinkel het my nie net geleer hoe om beter te skryf nie, maar hoe om eerliker te wees op die bladsy. Dit was ’n ruimte waar ek kon leer, luister, lag en onthou hoekom ek in die eerste plek begin skryf het.
2 thoughts on “’n Terugblik op Kaap tot KwaNojoli – Robyn-Leigh Cloete”
Ek is super trots opjou my vriendin, ek kan my blydskap nie op pen so vasmaak soos jy nie maar my hart wys jou hoe opreg ek jou waardeer en ewig dankbaar as dat jou mooi woorde my dra…ek kan nie wag om te sien wat jy nog gaan skryf nie, ek staan bankvas angter jou ousie…JY is wie jy dink jy is♥️♥️♥️♥️
Nou ja, toe, nou weet jy ook wat ons nog altyd geweet het. Voorwaarts!