




Geliefde skrywer Diana Ferrus is saam met een van Oude Leeskamer se inwonende skrywers, Miriam Telanie verwelkom in Jannie se Leeskamer op Woensdag, 3 Julie. Miriam het in diepte vertel oor die skryfproses van haar eerste roman, Hier verlaat ek jou.
“Dit het gou duidelik geword dat haar stories nie net haar eie is nie, maar ook eg weerklank vind by die lesers en gaste,” vertel Délani Spies, Literêre & Administratiewe Bestuurder by Oude Leeskamer. “Stories uit haar gemeenskap, wat haar karakters vorm en die stilswye oor herkoms deurbreek, dryf haar om hierdie verhale met die wêreld te deel.”
Onder die gaste was die dinamiese span van Woorde Open Wêrelde (WOW), Fiona van Kerwel en Janeen Jooste en lede van die Pniël Leeskring. Volgens Spies het almal die betekenisvolle gesprek waardeer en die geleentheid aangegryp om foto’s saam met die skrywers te neem ter herinnering aan die spesiale oomblikke.
“Hartlike dank aan elkeen wat hierdie aand saam met ons onvergeetlik gemaak het.”
Die Oude Leeskamer residensie word by dié skrywershuis op Stellenbosch deur die Jannie Mouton Stigting, in samewerking met die Jakes Gerwel Stigting, aangebied. Die doel van hierdie verblyfprogram is om aan skrywers, wat na afloop van die Bosberg-boekskryfprogram suksesvol gedebuteer het, by te staan met die skryf van hul tweede boeke. Dit is dikwels die geval dat skrywers wat goed gevaar het met hul eerste boeke sukkel om dit op te volg. Daarom span die twee stigtings saam om in die verdere ontwikkeling van hierdie skrywers te belê.
Die skrywers wat in 2025 gekies is om aan hierdie residensie deel te neem, sluit in Audrey Jantjies, Miriam Telanie en Sihle Qwabe.
Hierdie residensie is nie oop vir aansoeke nie. Voormalige deelnemers aan die Bosberg-projek is welkom om hulle voorstelle vir tweede boeke in te dien by Theo Kemp (theo@jgf.org.za) om in die toekoms vir hierdie residensie oorweeg te word.