“Soos die titel en voorblad voorspel, speel die beeld van hare ’n besonderse rol in die gedigte. “Gaan sê jou ma jy’s verlief op / ’n Nama(kwa)kind / een met kroes hare en ’n geel vel / een wat ken van gwarra-goed en suurdeegbrood / van skotteltjiewas en viervertrek” (uit ‘Wat sal jou ma sê’); “[jy] dra jou kroes hare so laat mense kan sien / glad alleen beteken nie mooi nie” (uit ‘Aksynbetalers’); “ek was so verleë verlief op jou / voor jy jou hare begin relax het” (uit ‘Beautiful in Kakamas’); en “[jy] weet nie of jy weer in die wit Jirre / met die gladde hare / se kerk kan sit / en vorentoe gaan vir nagmaal nie” (uit ‘Geloof se mosterdsaadjie’).” Klyntji.com
https://klyntji.com/joernaal/2020/6/30/lynthia-julius-uit-die-kroes
Lynthia Julius is as algehele wenner van die 2022 Woordfeeskortverhaalkompetisie aangekondig by die bekendstelling van die sewende US Woordfeeskortverhaalbundel in die Hofmeyr-saal in Stellenbosch op 10 Oktober. Sy wen R30 000 geborg deur Du Toitskloof Wyne vir haar storie “Plat lê soos ’n Minora blade”.
“Uit 366 verhale word daar net één wenner gekies, en vanjaar s’n is van die oorspronklikste wat ek al gelees het. Dis as’t ware ’n Nagmaal wat plaasvind, maar op ’n heel anderster manier. Lynthia slaag daarin om uiteenlopende temas saam te voeg in ’n styl wat wissel van humor tot patos,” sê Suzette Kotzé-Myburgh, wat sedert 2016 die sameroeper van die beoordelaarspaneel is.
Die ander twee beoordelaars was Valda Jansen en Marius Swart.
Oor die betekenis van hierdie erkenning het Lynthia Julius gesê: “Toe ek klein was het ek altyd vir die kinders gesê: ‘Vat my handtekening, want dit gaan eendag baie werd wees.’ Ek het my handtekening op bome, hulle arms en in hulle boeke gemaak en niemand het my kop toe gevat nie. Toe ek by die bekendstelling gevra word om die boeke vir die argief te teken het ek aan die 7-jarige Lynthia gedink en sy het gesmile. Die kompetisie het haar weer ’n platform gegee om haar handtekening te kan maak, want daar is mense wat dink dis iets werd.”
Baie geluk, Lynthia Julius!
Foto’s: Jeremeo Le Cordeur