Lank lewe die liefde – An ode to Sophie
Ek sien in my geestesoog hoe jy oppie swing speel
Skaterlag innie son met vrot tandjies en al
Jys happy, tog so happy met jou kleingeid saam
*
Jy steek jou kleine handjies uit na my
En ek vergeet hoe ek ly
Mammie mis jou soos ’n stukkie brood
Ek verlang om te escape na jou
Om jou in my arms te ontvou
*
Jy maak my lewe worth living
Keep on keeping on want ’n swak ma verdien jy nie
My sonskyn kind, my hero, my lifeline
Jý hou my staande blom
Alles wat ek doen is vir jou
*
Ek sal jou tot in die ewigheid liefhê
Met alles binne my sal ek strive to thrive
Mammie se eerste ware liefde
Hoe powerful is jy nie?
*
’n Distant memory is iets wat jy nooit sal wees nie
Met alles binne my sal ek jou memory vir ewig en altyd treasure
*
Lank lewe die memories
Lank lewe die serenity
*
Lank lewe die Liefde.
Daneel Jantjies is ʼn gebore Swellendammer en beskryf haarself as ʼn “small town girl met groot drome”. Sy skryf hoofsaaklik gedigte en kort skryfstukke wat deur haar omgewing en sy mense geïnspireer word: “Klein dorpies dink ek, is enige skrywer se droom. Daar is altyd iets wat jy sien of hoor, en die semi-stilte van die platteland gee net soveel meer skryf-inspirasie.” Sy is baie geheg aan haar familie en hulle vorm ʼn groot deel van wie sy is. Ook die gedeelde liefde vir lees en skryf, vir letterkunde en taal, is iets wat haar van jongs af voed. Hoewel Daneel, die skrywer, en Daneel, die gewone mens, nie altyd ooreenstem nie, weerspieël haar skryfwerk dieselfde mensgerigtheid as wat sy in haar daaglikse omgang met mense toon: “Die lewe kom met snaakse draaie, so as my skryfkuns vir iemand kan help of ʼn inspirasie kan wees, dan slaag ek in my doel.”