Die afgelope tyd praat ek baie oor my oupa Rampie. En nou vandag hoor ek oor die radio dat dit Alzheimer’s awareness maand is .
Ek het toe onmiddelik deur hierdie gedigte gaan lees. En ek voel ek wil dit net weer deel.
My oupa het Alzheimer’s gehad. Dit is nie n maklike siekte om mee saam te leef nie. Nie net vir die persoon nie maar vir die mense om die persoon. Gedurende sy siekte het ek gedigte geskryf van wat ek op gemerk het. Skryf was die enigste manier om die realiteit in die oë te staar maar ook om die pyn te probeer verstaan en verwerk.
Ek deel nie gewoonlik hierdie diep persoonlike dinge nie maar ek sien dit as n manier om mense bewus te maak van die siekte. Sodat mense meer deernis en empatie kan hê met mense en hulle families wat dit deurmaak. Natuurlik is daar soms ook oomblikke van lig en lag tydens so n donker tyd want ons moet aanpas en aangaan maar dit maak dit nie minder hartseer nie.
Die sterk gesonde man
wat voor my agteruit gaan.
Saam
jou tools wat nie meer handig kom nie,
jou garage alles weg gepak
soos jou bewussyn,
goeie herinneringe en
jou stem wat nie meer soos joune klink nie.
Alles kwyn weg.
Sy passie is en was nog altyd sleutels.
Nou
maak sy bosse-bosse
sleutels hom deurmekaar.
Bêre hy sy hele persoonlikheid,
sy woorde en sê-goedjies
saam sy herinneringe
toe gesluit.
En die sleutels
word vermis.
Dan soek hy die sleutels
en vra hulp om miskien
in die soektog:
sy gesonde bewussyn
terug te kry.
Die dag toe ons besef hy gaan agteruit
was die huis stil.
Die werklikheid het ons versmoor om oor dit te praat.
Net die bang en die seer in ons oë kon geraasmaak.
Wanneer jy so voor jou uit staar
met intensie so groot wat
half trane in jou oë laat:
dan weet ek Jy is daar.
Jy met jou hele denke,
Emosies en menswees
soos ek jou ken.
Dan sien ek jy besef
iets is nie reg en
hoe woede jou oorhaal
wanneer jy so voor jou uit staar
en alles probeer leg.
Ai, en die prentjie is soos n lem
wat aanhou sny,sny aan die wond
want die sterk man breek voor my
en ek wens jy kan sê hoe jy voel
maar jou stem is nie jou stem
gesteel deur n siekte
wat altyd wen.
My vrees dat Oupa my sal vergeet is groot. Maar die goeie herinneringe wat ek het van Oupa is groter. Jy was altyd daar. En dit is hard om na jou beeld te staar en dit is net die silhoeët wat oor is. Ek staar elke keer diep in jou oë opsoek na my Oupa Rampie maar daar is niks. Dan kom daar blits oomblikke van jou unieke menswees en kry ek vrede in my hart, dat iewers diep binne is daar nog n jy. Maar Oud word maak jou klaar.
Hy was bang
vir sy agteruit gaan.
Dat sy weerloosheid
hom maak minder van n man.
Bang dat ek hom so moet sien.
Al was dit seer
het ek geweet hy kan nie help
en dat hy dit nie verdien.
Swaar-swaar aan gesukkel
geprobeer om te onthou.
Daaglikse roetine in sy moer
kan op sy geheue nie meer vertrou.
Miché van Wyk is ʼn aktrise, digter, skrywer en kabaretvertolker van die klein Namakwalandse dorp Steinkopf. Tydens haar dramastudies aan die Universiteit van Stellenbosch het sy deelgeneem aan verskeie departementele produksies, insluitend At her feet deur Nadia Davids. Sy het haar honneursgraad in drama met spesialisasie in kabaret in 2022 behaal en haar navorsingsprojek het gehandel oor die insluiting van die Namataal en -kultuur in Afrikaanse televisie. Sy is ook genomineer vir die Fleur du Cap teaterprys vir die mees belowende student. Vanjaar het sy die kabaret Is als oraait by die huis van die Here? geskryf wat by die Adam Small-teaterkompleks opgevoer is en sy het die hoofrol vertolk in Jantjies and the Pearls wat te sien was by die KKNK en die Suidoosterfees.