Vyf aspirant-dramaturge is gekeur om deel te neem aan NATi Jong Sterre, die ontwikkelingsprojek wat jaarliks deur Suidoosterfees, die Jakes Gerwel Stigting, Artscape en die Afrikaanse Nasionale Teaterinisiatief (NATi) aangebied word. Dié jong stemme deurloop ’n uitgebreide opleidingsprogram waartydens hulle skryfwerk ontwikkel en afgerond word. Die verhoogtekste word dan omskep in professionele produksies wat in 2024 by die 21ste Suidoosterfees gaan debuteer.
Die vyf kandidate wat uit byna 50 aansoeke deur ’n paneel kundiges gekeur is, is Geralt Cloete, Miliswa Mbandazayo, Miché van Wyk, Cara Rossouw en Mikayla Joy Brown. Almal het tersiêre drama-opleiding agter die blad, en die Jong Sterre-projek gee hulle ’n gulde geleentheid om ’n professionele voet in die deur te kry.
Geralt Cloete het ’n meestersgraad in drama aan die Universiteit van die Witwatersrand behaal, en hy het al ’n SAFTA-toekenning ontvang vir die werk wat hy as stilis en kostumeerder vir ’n TV-komedie gedoen het.
As teatermaker het Miliswa Mbandazayo in 2021 aan die Universiteit van Kaapstad gegradueer. Sy is ’n skrywer en aktrise, en was assistent-verhoogbestuurder van Die Sewe Doodsondes wat verlede jaar by die Toyota US Woordfees opgevoer is. Miliswa het ook as verhoogbestuurder saam met die geselskap van Black Girl Live 2021 deur Spanje en Frankryk getoer.
Miché van Wyk was vanjaar op die Suidoosterfeesverhoog in die drama Jantjies and the Pearls. Haar vertolking van Ruth Jantjies het twee prysbenoemings meegebring. In 2022 is sy tydens die Première Toneelfees op Stellenbosch as beste aktrise genomineer, en vanjaar het sy ’n Fleur du Cap-nominasie as belowendste student ontvang. Miché het ’n honneursgraad in kabaret by Maties verwerf.
Cara Rossouw het ook ’n honneursgraad in kabaret op haar kerfstok. Verskeie kabaretproduksies het sedert 2021 uit haar pen verskyn en is onder regie van teatermakers soos Nicole Holm, Petrus du Preez en Frieda van den Heever opgevoer. Sy het aan die Hoër Meisieskool Bloemhof op Stellenbosch gematrikuleer.
Mikayla Joy Brown het grade in drama en kreatiewe skryfwerk, en was verantwoordelik vir die teks van Jantjies and the Pearls waarin Miché van Wyk gespeel het. Mikayla het vanjaar met die Fleur du Cap as belowendste student weggestap. In 2021 is sy as beste ondersteunende aktrise by die Première Toneelfees aangewys.
Dié groep talentvolle jongelinge sal binnekort ’n skrywersverblyf van drie weke in die Jakes Gerwel Stigting se Paulet Huis op Somerset-Oos bywoon. Die aktrise Lee-Ann van Rooi, wat gehore vroeër vanjaar by die Suidoosterfees gaande gehad het met haar spel in The Woman Who Fed the Dogs, sal as teksmentor optree. Sodra die tekste blink geslyp is, sal Rafiek Mammon die proses om dit as volwaardige verhoogproduksies, gereed vir Suidoosterfees 2024, deursien.
Sedert die NATi Jong Sterre-inisiatief in 2019 in die lewe geroep is, het nuwelinge soos Kanya Viljoen, Herschelle Benjamin, Stephren Saayman en Melissa Myburgh gehore reg oor die land beïndruk met die werk wat hulle tot stand gebring het.
EINDE
Vir meer inligting, kontak Faren Esau by Faren.Esau@media24.com.
Bios:
GERALT CLOETE
Geralt Cloete is ʼn vervaardiger, regisseur, verhoogkunstenaar, dramaturg en toegepaste teaterpraktisyn. Hy het ʼn meestergraad in drama by Wits-universiteit verwerf en het ʼn groot belangstelling in hoe drama toegepas kan word in die konteks van opvoedkunde en binne gemeenskappe. Geralt is die direkteur van NamaKhoi Produksies wat die visie het om die Nama- en Koi-mense se taal en kultuur te behou, bevorder en te ontwikkel deur middel van teater.
Geralt Cloete
MILISWA MBANDAZAYO
Miliswa Mbandazayo is ʼn aktrise, dramaturg, digter, skrywer en teatermaker wat in Kaapstad gebaseer is. In 2021 het sy haar honneursgraad in teater en die uitvoerende kunste aan die Universiteit van Kaapstad verwerf. Plaaslik het sy as verhoogbestuurder opgetree vir Manyano Media se Black Girl Live (2021) en as assistentverhoogbestuurder vir Matthew Wild se Die Sewe Doodsondes (Woordfees, 2022). Sy het ook oorsee getoer na Frankryk (Festival d’Avignon, 2021 en Théâtre Nanterre-Amadiers, 2023), Spanje (Festival Grec, 2021) en Duitsland (Africologne, 2023) as verhoogbestuurder vir Brett Bailey se Samson. In 2022 was haar eie kort toneelstuk Oh! ingesluit in die African Women Playwrights Network se Ghana-kunsfees.
Miliswa Mbandazayo
MICHÉ VAN WYK
Miché van Wyk is ʼn aktrise, digter, skrywer en kabaretvertolker van die klein Namakwalandse dorp Steinkopf. Tydens haar dramastudies aan die Universiteit van Stellenbosch het sy deelgeneem aan verskeie departementele produksies, insluitend At her feet deur Nadia Davids. Sy het haar honneursgraad in drama met spesialisasie in kabaret in 2022 behaal en haar navorsingsprojek het gehandel oor die insluiting van die Namataal en -kultuur in Afrikaanse televisie. Sy is ook genomineer vir die Fleur du Cap teaterprys vir die mees belowende student. Vanjaar het sy die kabaret Is als oraait by die huis van die Here? geskryf wat by die Adam Small-teaterkompleks opgevoer is en sy het die hoofrol vertolk in Jantjies and the Pearls wat te sien was by die KKNK en die Suidoosterfees.
Miché van Wyk
CARA ROSSOUW
Cara Rossouw het haar honneursgraad in drama en teaterstudies in 2022 by die Universiteit van Stellenbosch verwerf. Tydens haar studies het Cara aan talle teaterproduksies deelgeneem en verskeie rolle vertolk, insluitend dié van stemaktrise, kabaretvertolker en verhoogbestuurder. In dieselfde jaar het sy haar enkelsnit Ontken vrygestel en ook die eenvrou-kabaretvertoning Adapt or Die geskryf. Cara skep tans digitale video-inhoud vir bemarkingsdoeleindes en vryskut as sanger, liedjieskrywer, dramaturg en aktrise.
Cara Rossouw
MIKAYLA BROWN
Mikayla Brown is ʼn 23-jarige vryskutkunstenaar wat in Kaapstad gebaseer is. Sy het haar voorgraadse dramastudies en haar honneursgraad in kreatiewe skryfkuns by die Universiteit van Stellenbosch voltooi. In 2022 is ’n kinderstorie wat sy geskryf het, aangewys as een van die wenners in die Nali’bali en Standard Bank Geletterdheidsmaand-kompetisie. Sy het ook haar eerste toneelstuk Jantjies and the Pearls geskryf en die regie van die opvoering daarvan tydens die Universiteit van Stellenbosch se Première Teaterfees in 2022 behartig. Die toneelstuk is hierdie jaar ook met groot sukses opgevoer tydens die KKNK en die Suidoosterfees. Mikayla het so pas ’n internskap by Tomas Films voltooi.
Mikayla Joy Brown